Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Gemeentelede van VGK Skuinskraal hou dié week, heelweek, makietie ter viering van hul kerk se 40ste verjaarsdag.
Die kerk is geleë tussen Parkdene en Conville, in Nelson Mandela-boulevard, met 'n allemintige stuk grond wat dié gemeente as bruidskat van VGK George ontvang het, met hul afstigting in 1984.
Met die opwinding van hul 40ste herdenking is daar egter ook trane, want dit is waarskynlik die laaste verjaarsdagvieringe met hul huidige kerksaal.
In 'n hofgeding tussen die kerk en 'n vorige predikant, het die kerk hul grond verloor. Planne is nou in plek om in die voorsiene toekoms na Life Community Services se perseel - knap agter die kerk se huidige ligging - te verskuif.
"Maar vir nou gaan ons fokus op die mooi dinge," het Rosina Louw, sameroeper van die reëlingskomitee gesê. "Ons almal sien vreeslik uit na die dinee Saterdagaand, 16 November, by die Conville-gemeenskapsaal."
Die gasspreker van dié glansgeleentheid is Wanda Bam, bestuurshoof van Radio Kaapse Kansel.
Met die opwinding van hul 40ste herdenking is daar egter ook trane, want dit is waarskynlik die laaste verjaarsdagvieringe met hul huidige kerksaal.
Die feesvieringe het vroeër die week reeds afgeskop met 'n openingsaand Maandag 11 November, die dag wat VGK Skuinskraal as hul verjaarsdag beskou. Groeteboodskappe is deur eregaste van ander kerke tydens 'n tee-geleentheid by die kerksaal ontvang.
VIDEO - Staaltjies van VGK Skuinskraal met hul 40ste verjaarsdagweek:
Video: Michelle Pienaar
Woensdag 13 November sal jong lidmate deelneem aan die Mr. en Mej. Skuinskraal-kompetisie. Sondag 17 November sal 'n dankseggingsdiens plaasvind.
Louw bedank hul hoofborge van die dinee Saterdagaand: Dejay Construction and Facility Management (Deon Jantjies), Prins Electrical (Andrew Prins) en Edith Booysen in haar persoonlike hoedanigheid as afgetrede verpleër.
Die kerk is geleë tussen Parkdene en Conville, in Nelson Mandela-boulevard, met 'n allemintige stuk grond wat dié gemeente as bruidskat van VGK George ontvang het, met hul afstigting in 1984.
Meer oor Skuinskraal
VGK Skuinskraal het tans 267 aktiewe lidmate, 487 belydende lidmate en 169 dooplidmate (kinders wat nog nie belydenis afgelê het nie). Die kerk ressorteer onder die ring van George en vorm deel van 17 gemeentes, onder die sinode van die Wes-Kaap.
Oor die jare het twee volwaardige predikante by die kerk aangesluit, ds. Jimmy de Wet en ds. Louis Pietersen.
Verskeie konsulente was ook by die kerk betrokke, waaronder dss. Johan Louw, Henry Matthys, Bennie Roelfse, Michiel Burger, Myrtle Neewat-Joubert en Charlton Crowley van Mosselbaai. Crowley is tans die konsulent van die gemeente.
VGK Skuinskraal het in 1984 afgestig van VGK George.
Die kerkraad bestaan uit 14 lede, agt ouderlinge en ses diakens. Verskeie diensaksies vir kinders, jongmense en volwassenes word deur die kerk bedryf, waaronder die jeugbrigade, koor, Christelike Alkoholiste Bediening, Sondagskool, missionale kommissie, bou- en -eiendomskommissie en diakonie en kategese.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’