GEORGE NUUS - Gemeentelede van VGK Skuinskraal was slaggereed vir 'n heerlike saamtrek met die afsluiting van dié kerk se verjaarsdagweek. Gaste by die verjaarsdagdinee het verlede Saterdag, 16 November, behoorlik uitgedos vir 'n baie spesiale geleentheid by Conville-gemeenskapsaal - VGK Skuinskraal se veertigste jaar in die bediening.
Gasspreker Wanda Bam, bestuurshoof van Radio Kaapse Kansel, het almal herinner wat die waarde van die kerk in die gemeenskap is.
"Veertig jaar gelede is hierdie heilige ruimte gestig, 'n plek waar ons nie net ons geloof kan beoefen nie, maar ook waar ons mekaar kan ondersteun, inspireer en liefhê," het sy gesê.
GALLERY - VGK Skuinskraal hou makietie met 40ste verjaarsdag
"Wanneer ons terugkyk oor die laaste vier dekades, kan ons nie anders as om die ongelooflike reis wat ons as gemeenskap gemaak het, te waardeer nie.
"Ons het saam gevier in tye van blydskap, maar ook saamgedra in tye van verdriet. Dit is hierdie eenheid wat ons sterker maak."
Die bestuur van die reëlingskomitee met gasspreker Wanda Bam. Van links is Debbie Sauer, Mildred van Rooi, Pieter Loggenberg, Rosina Louw, Morné Pietersen, Julian Danster, Wanda Bam, Lesley Ruiters en Avril Jantjies.
Bam het gesê VGK Skuinskraal is nie net 'n gebou nie, maar ook 'n lewende, unieke gemeenskap.
"Elke lid van hierdie gemeente het 'n unieke rol gespeel in die opbou van hierdie belangrike geloofsgemeenskap. Van diegene wat ons jeugprogramme lei, tot diegene wat ons musiek en aanbidding ondersteun; van diegene wat ons gemeenskapsdienste organiseer, tot elkeen wat saam bid en hoop – julle is die hart en siel van hierdie plek."
Leoney Baardman, Isabella Booysen en Jaqueline Jacobs.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’