GEORGE NUUS - Die George-landbouskou het Donderdagoggend, 29 Augustus, op 'n hoogtepunt geopen met 'n sakeontbyt waar die uitvoerende hoof van die FW De Klerk Stigting, Christo van der Rheede, 'n boodskap van versigtige optimisme gehad het vir Suid-Afrika.
Sy optimisme is geëggo deur Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Ivan Meyer, wat ook gepraat het.
Van der Rheede het verwys na 'n positiewe wending op verskeie gebiede onder die Regering van Nasionale Eenheid (RNE), waaronder kapitaal wat stadig begin terugvloei, onder meer deur beleggings soos die R1,1 miljard van Toyota in KZN.
Die JSE verbeter; die bruto binnelandse produk lyk goed; en beurtkrag het verminder, al is dit weens mense wat van die netwerk afgeklim het. Op die misdaadfront tree die polisie sterker op; en daar is verskerpte optrede teen onwettige immigrante asook fokus op die blootlegging en ondersoek van korrupsie. Die polisiëring-samewerkingsooreenkoms wat tussen die Wes-Kaapse regering, nasionale regering en die Stad Kaapstad onderteken is, is ook 'n groot stap vorentoe.
"Daar is baie sulke green shoots. Dis positief. Paul Mashatile praat oor 'n openbare-privaat vennootskap om die waterkrisis aan te spreek. Dit sê ons vir hom al jare saam met Agri SA se manne."
Transnet se hoof praat ook van 'n nuwe raamwerk vir samewerking met die privaat sektor, wat positief is, het hy gesê. Daarteenoor is daar geweldige uitdagings soos die wanbestuur van munisipaliteite en voorgenome Nasionale Gesondheidsversekeringsplan.
Hy het na die twee hoofstrome in die politieke speelveld verwys, "met aan die een kant 'n magsbasis wat vasgevang is in 'n maalkolk van Afrikanistiese, kwasi-sosialistiese, anti-Grondwet en nie-progressiewe denke, en aan die anderkant 'n RNE waar ons oor klasgrense en rasgrense heen hoop bring.
"Dis 'n massiewe waagstuk, die RNE, maar ons kan dit nie verloor nie. Ons het 'n jong demokrasie, ons is veerkragtig, ons is lief vir mekaar, ons erken mekaar se diversiteite.
"Ons kan nooit almal op ons eie syspoortjies gaan klim nie ... want as ons dít doen, fragmenteer ons onsself en dan het ons nie 'n kans op groter sukses nie".
Hy het gesê Suid-Afrikaners het nie 'n ander keuse as om te onderhandel nie. "Op hierdie oomblik is die groot vraag hoe volhoubaar is die RNE; wat is Cyril Ramaphosa se toekoms in terme van die RNE; [en] in hoe 'n mate is die RNE besig om te jel, want ons sit met mense uit verskillende ideologiese hoeke.
"Maar ek sê, kom ons sit die ideologiese verskille eenkant en ons fokus op die taak op hande dat ons hierdie land gestabiliseer kry. Wie hom [Ramaphosa] gaan opvolg - dít is die grootste kwelvraag."
Meyer het in sy toespraak gesê die verkiesing in Mei het gekeer dat die land 'n mislukte staat word. "Die RNE móét nou slaag, want 30 jaar was net te veel onder 'n korrupte, kriminele sindikaat."
Hy het ook verwys na sake- en verbruikersvertroue wat toegeneem het en die "sigbare verskil" wat die RNE reeds gemaak het. Met die mees onlangse vloede het die nasionale regering 'n rampgebied in die provinsie binne enkele dae verklaar, waar dit in die verlede maande geneem het.
Dieselfde het gebeur om siektebeheer-areas teen bek-en-klouseer te verklaar. Hy het gesê daar is nog baie werk, maar hy is baie opgewonde.
Wes-Kaapse Landbouminister Ivan Meyer gesels oor die RNE en hoe dit al 'n verskil maak.
Christo van der Rheede gesels oor ons demokrasie en landbou.
Corné Botha (regs), George Landbouskou se president, saam met die Wes-Kaapse Landboudepartement se minister, Ivan Meyer, en adjunkdirekteur-generaal Darryll Jacobs.
Besoekers het tougestaan by 'n baie goed ondersteunde George Landbouskou 2024.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’