GEORGE NUUS - Politieke partye het gemengde gevoelens oor die reëlings van die verkiesing verlede Woensdag in George. Dit wissel van uitstekend tot ruimte vir verbetering.
In die algemeen is verteenwoordigers van politieke partye dit eens dat die verkiesing, nieteenstaande 'n paar probleme hier en daar, tog goed afgeloop het.
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus, het gesê in George is die verkiesing uitstekend gereël. "In George wil ons die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) krediet gee om al die politieke partye te akkommodeer. In die geheel gesien verdien die OVK in George 'n kompliment."
Volgens Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, kon dinge beter verloop het. "Ek glo daar sal geleer word uit die foute wat gemaak is vir toekomstige verkiesings.
"In die geheel gesien is dit die uitslag wat kiesers wou gehad het." Hy het benadruk dat uit 'n Suid-Kaapse oogpunt, het die probleme wat ontstaan het, nie 'n invloed gehad op die uitslag nie.
Darryll Sauer, ANC-voorsitter in George, het gesê as hy 'n punt moes toeken vir die OVK sal dit 'n 60 + wees. "Alles is nie 100% gedoen nie."
Hy is bewus van OVK-amptenare wat hul op stemdag openlik by 'n bepaalde politieke party geskaar het. Hulle het kos van die party ontvang. "Hulle is veronderstel om 100% neutraal te wees. Dit plaas die proses onder verdenking. Dinge kon beter gewees het. In die geheel gesien, het dinge goed afgeloop."
Johan du Toit van die ACDP, het gesê uit 'n organisasie-oogpunt het die verkiesing gewys dat die OVK-amptenare nie 100% opgelei was nie. Hy glo daar is ruimte vir verbetering in die sin van opleiding van OVK-personeel.
Hy weet van uitdagings wat ontstaan het met die tellery. "Ek is nie seker of hulle net moeg was nie en of hulle net nie behoorlik opgelei was nie." Hy het bygevoeg: "Op stemdag self was daar sover bekend nie probleme nie."
Wat wel bietjie gekrap het is dat nie al die partye hulle op stemdag gesteur het aan die reëls nie. So byvoorbeeld het van die partye voortgegaan met stemwerwery.
Brendan Adams van Icosa, het gesê daar was probleme. Die party het onder meer klagtes ingedien oor OVK-amptenare wat na bewering bevooroordeeld was. Hy het ook verwys na die feit dat sommige partye nog op stemdag glo nog stemme gewerf het. "Dit is teen die Kieswet."
Adams het gevra dat die OVK meer moet kyk hoe tegnologie ingespan kan word in toekomstige verkiesings.
Virgill Gericke van die PBI het gesê daar is ruimte vir verbetering. Daar was insidente en die PBI hou sy opsies oop met die oog op verdere optrede.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'