GEORGE NUUS - Die polisie in Pacaltsdorp het 'n 26-jarige verdagte in hegtenis geneem in verband met die dood van 'n 25-jarige man in Voëlnesvaringstraat, New Dawn Park in Pacaltsdorp, vroeër vanoggend.
“Voorlopige inligting dui daarop dat die polisie na die toneel ontbied is na 'n onderonsie tussen twee mans,” sê sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder.
“Met hul aankoms het die polisie die man met 'n steekwond in die bors aangetref. Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.”
Spies het bevestig dat ‘n ondersoek na die saak tot die inhegtenisneming van die verdagte gelei het.
“Hy bly in polisie-aanhouding en sal na verwagting Maandag 18 Augustus sy eerste hofverskyning in die George-landdroshof maak. Pacaltsdorp-speurders ondersoek 'n moordsaak.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’