GEORGE NUUS - Uiterste wanhoop wat sy as kind in 'n armoedige bestaan ervaar het, het byna haar lewe gekos, maar vandag is die 38-jarige Androlene Killian 'n suksesvolle vrou wat haar plek volstaan en ander aanmoedig om altyd aan te hou hoop.
Haar jong lewe, tussen Steytlerville en Gqeberha, was nie uniek nie - dis die verhaal van menigte kinders wat weens omstandighede geen toekomshoop koester nie.
Van Killian se vroegste herinneringe is aan 'n gevoel van verwerping deur haar stiefma, haar ma wat afwesig was omdat sy weg moes werk, haar ouma wat met bitter min so goed moontlik probeer sorg het vir verskeie kinders, dan die verlies van haar polisiemanpa in 'n skietery, en 'n swangerskap in haar tienerjare wat tragies geëindig het.
"Was dit nie vir my biddende ouma en haar stem wat ek altyd hier diep binne my gedra het nie, sou ek oor die afgrond gestort het. Ouma het ons kinders altyd aangemoedig met die woorde, 'Eendag gaan julle beter lewe as ons'. Ten spyte van 'n moeilike lewe het sy aan haar geloof vasgeklou, en my gereeld met haar woorde geseën," vertel sy.
Maar vir die jong Killian was dit nie genoeg nie. Menende dat sy beter vooruitsigte by haar pa in Gqeberha sou hê, waar hy besig was om van haar stiefma te skei, het sy weggeloop na hom toe om hoërskool daar te begin. "Maar net toe ek aan hom begin gewoond raak, sterf hy."
Sy het daardie jaar net haar eindeksamen klaar geskryf voordat sy terug is na haar ouma.
Androlene gedurende die tyd toe sy vir Working on Fire in die berge gewerk het.
Killian het herhaaldelik haar eie lewe probeer beëindig. Haar swangerskap in graad 11 was traumaties en sy verloor haar baba met geboorte. Sy het nie die moed gehad om terug te gaan skool toe nie, en gaan werk soek.
Ná verskeie werke, beland sy in die Uitgebreide Openbare Werke Program (UOWP oftewel EPWP) en word geplaas by Working on Fire.
"Dit was die draaipunt in my lewe. Ek het geleer wat vasbyt is, van die opleidingsfase af deur tot by die werk. Dis straf en daag jou fisies en geestelik uit.
"Ek was deel van die span wat op hoë plekke in die berge, waar ons uitheemse bome moes afkap, gewerk het.
"Ek het goed reggekry wat ek nooit gedink het ek ooit sal kan baasraak nie. Hier het ek myself leer ken en besef hoe sterk ek as vrou eintlik is."
Sy word uiteindelik 'n spanleier, later brandbewusmakingsbeampte en toe projekassistent in die burgemeesterskantoor by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Sy't leier van die span geword wat op hoë plekke in bergagtige gebiede uitheemse bome uitgehaal het.
Ses jaar gelede het sy 'n pos as UOWP-beampte aanvaar en sy behartig onder andere skakeling tussen die geregistreerde werksoekers op die munisipaliteit se databasis en kontrakteurs.
Killian publiseer in 2022 'n boek oor haar lewe, A predestined life - Jeremiah 29:11, om jong meisies hoop te gee. "Hulle het meestal niemand om mee te praat nie, en word vinnig geoordeel.
"Dis maklik om dan op 'n hopie te gaan sit en omstandighede die skuld te gee, maar as jy kan asemhaal, kan jy opstaan en beter doen as gister. God het 'n plan met elke lewe - ek is 'n bewys daarvan," sê sy.
Sy wil graag haar storie met gehore deel.
Skole of organisasies wat met haar wil skakel, kan haar kontak by killianandrolene@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’