Gallery Update Video
OUDTSHOORN NUUS - Die brandweer is steeds in Kerkstraat waar 'n brand vroeër vanoggend, 2 Mei, by die Allied-gebou uitgebreek het.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend en sal eers na ’n deeglike ondersoek vasgestel kan word.
Die Klein Karoo Fonds (KKF), eienaars van die gebou, het bevestig dat die perseel vir veiligheid afgesper sal bly.
’n Strukturele ingenieur, wat deur KKF aangestel is, sal in die komende week die stabiliteit van die gebou evalueer. Tydens die naweek sal wagte aan diens wees om die gebou te bewaak.
GALERY: Allied-gebou in Oudtshoorn brand
Volgens voorlopige inligting het intense hitte verskeie strukturele krake aan die agterkant van die gebou veroorsaak, wat 'n groot veiligheidsrisiko inhou. Geen persone word intussen toegelaat om die gebou te betree nie.
VIDEO: Brandweer is steeds op die toneel en die gebou word vir veiligheidsredes afgesper.
Die gebou was veronderstel om volgende week opgeveil te word, maar hierdie proses is voorlopig opgeskort hangende die uitslae van die ondersoek. Sodra die ingenieur sy verslag voltooi het, sal die polisie die ondersoek oorneem.
Die Oudtshoorn Courant het navrae aan die polisie sowel as die munisipaliteit gerig. Volgens ’n aandeelhouer van KKF sal ’n volledige verklaring teen volgende week uitgereik word. Verdere besonderhede sal aanlyn bygewerk word soos nuwe inligting beskikbaar raak.
Vorige berigte:
- Update: Oudtshoorn-gebou in puin week voor veiling
- Oudtshoorn-brand: Enorme skade aan gebou en ondernemings
- Allied-gebou op Oudtshoorn is aan die brand
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’