UNIONDALE NEWS - Die Uniondale-landbouskou het die naweek van 8 en 9 November hul 60ste bestaansjaar gevier met 'n rekordgetal inskrywings, besoekers en aktiwiteite wat die dorp se gemeenskapsgees en plattelandse gasvryheid ten toon gestel het.
Hierdie geliefde skou, wat die eerste keer op 7 Februarie 1964 plaasgevind het, het gegroei van 'n beskeie begin op die dorp se sokkerveld tot 'n gevestigde instelling op die huidige skouterrein wat in 1970 aangekoop is.
Sedertdien is die skou 'n jaarlikse hoogtepunt.
Hoogtepunte van die 2024-skou
• By die perde was daar 20 stalle en 89 perde wat geskou is.
• In die vee-afdeling is 50 inskrywings by die skaapafdeling en 70 by die boerbokafdeling ontvang.
• Die jeugskou het 107 inskrywings gehad.
• By die budjieskou was daar 14 vertoners wat altesaam 185 budjies vertoon het.
• Daar was 15 inskrywings by die hondeskou.
• Die 43 stalletjies het 'n verskeidenheid plaaslike produkte en handwerkitems aangebied, wat die meer as 850 besoekers 'n unieke inkopie-ervaring gegee het.
• Die skoudans op Vrydagaand, het 215 mense gelok het en bly een van die skou se gewildste aktiwiteite.
• Saterdagaand is die geleentheid met die Lions se steakete afgesluit.
• Sowat 1 000 van die skou se ikoniese, geliefde jaffels is aan honger skougangers verkoop.
• Vir die eerste keer is Mnr. en Mej. Skou ook aangebied, 'n gesogte nuwe byvoeging wat 'n volgepakte saal gelok het.
Nooit te jonk om te leer nie. Ilke van Wyk word gewys hoe om ‘n bok vas te hou wanneer die dier geskou word. Foto: Fotojan
'n Nalatenskap van samewerking
Pieter-Matt Stemmet, skouvoorsitter sedert 2004, beskryf die skou as die hartklop van die gemeenskap: "Ons grootouers en ouers het 'n visie gehad om 'n skou op te bou en vir ons 'n erfenis te laat waarop ons trots kan wees. Dit is nou ons verantwoordelikheid om hierdie tradisie voort te sit en vir die volgende geslagte te bewaar."
Hy beklemtoon ook die gemeenskap se noue samewerking as die sleutel tot die skou se volgehoue sukses.
"In 'n tyd waar baie dorpies se landbouskoue uitsterf, bewys Uniondale se skou dat toewyding en gemeenskaplike trots hierdie tradisie vir die volgende 60 jaar kan verseker," sê Stemmet.
Saam met die groot kampioen ram is van links: Derec Giles (skou-sekretaris), Kosie Mentz (bokeienaar), Baksteen Marais (beoordelaar) en Shipo Saaiman (hanteerder). Foto: Fotojan
Verkorte uitslae:
Bokke:
Junior Ram Kampioen: Kobus Lötter
Groot Kampioen Ram: Kosie Mentz
Junior Kampioen Ooi: Kobus Lötter
Senior Kampioen Ooi: Boy Lötter
Groot Kampioen Ooi: Boy Lötter
Hannes Faku (hanteerder) by die skaap wat die groot kampioen ram-afdeling gewen het. Die eienaar is Ross Henderson.
Skape:
Groot kampioen ooi: Ross Henderson - Boer
Groot Kampioen ram: Ross Henderson
Groot kampioen oorgewig ram: Ross Henderson
Beste bouvorm: Matt Zondagh Landgoed
Perde:
SSK Sash groot kampioen 5 gang
Perd: Hi-Fortune
Eienaar (Wenner): Sally McNaughton
Afrigter: Junior Hugo
Teler: Thys du Toit (Herold)
Hondeskou:
Aantreklikste Seun: Luzanne van Ghent - Basjan
Mooiste Meisie: Annabelle Stander - Fluffy
Golden Oldie: Hayley Briggs - Ariel
Oulikste Puppy: Amanda Schley - Nala
Owner Look-a-Like: Amanda Schley - Nala
Deelnemers aan die jeugskou is van links: Frederick Wagenaar, Ilke van Wyk, Hannah Wagenaar, Karli Giles and Ava Giles. Foto: Fotojan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’