Die eerste fase van die projek het toegewyde natuurliefhebbers vanaf die Vrydag saamgetrek en kamp opgeslaan tussen inheemse bome op die plaas Kouma aan die voet van die Langeberge.
Die Saterdagoggend het nog belangstellendes opgedaag en nadergeskuif vir 'n baie interessante aanbieding deur Len Nel, bestuurder natuurbewaring, van die Jagtersvereniging.
Die belangrikste kenmerke van uile is aangespreek asook hoe die uil aangepas en toegerus is om die nagroofvoëlnis te oorheers. Aanpassing van die oë, veerbedekking, gehoor, spysvertering en hoe die uil dit gebruik om sy prooi te vang, is enkele aspekte wat uitgelig is.
Die voordele van 'n gesonde uilbevolking, asook die nadelige uitwerking van menslike wanpraktyke op uile, is aangespreek.
Die belangstellendes wat dapper genoeg was het die geleentheid benut om 'n uil-braakselpakkie oop te breek en te ontleed om vas te stel waaruit die uil se dieet bestaan. Uilvere is bestudeer sodat elke besoeker kon sien hoe die vere aangepas is om 'n doodstil vlug te verseker.
Die plasing van 'n uilkas en ontwerp daarvan is ook bespreek en gedemonstreer.
Aan die einde van die voorlegging is vrae gevra en ondervindinge uitgeruil. 'n Inligtingspakkie is aan elke gesin geskenk vir verdere navorsing.
Later die middag het die bekende Jeffrey Sass, kenner van inheemse bome, aangesluit en sy teorie waarom die aangeplante inheemse bome op die terrein bo-gemiddeld vinnig groei, gedeel.
Volgens Sass is dit as gevolg van 'n neerslag van plantaardige kolloïede wat deur die Koumarivier neergelê is. Die kampterrein is op een van die hoefysterdraaie van die rivier ontwikkel.
Hy het onder andere die vier verskillende geelhoutspesies en ook die geslag van die bome uitgewys. Die verskille in die drie karee-spesies is bespreek en daar is ook uitgewys hoe wit stinkhoutbome besig is om te verbaster as gevolg van kruisteling.
Verskeie ou boererate, afkomstig van die bas en blare van inheemse bome, is uitgelig en dit het gewissel van koorsbrekers, maagaandoenings en selfs 'n boom wat gebruik kan word as 'n opkikkermiddel. Vrugte van die wildeperske en karoppeule is geproe en verskillende blare is geruik.
Vir meer inligting oor die uilprojek kan Len Nel by 082 4568 159 geskakel word. Belangstellendes in uilkaste kan vir Alvin Hayes by 083 4545 791 skakel.

‘n Uilkasie op ‘n paal.