TUINROETE NUUS - Elke hond kry dalk sy dag, maar belese honde kry sommer ’n hele naweek.
Ná die afgelope naweek se suksesvolle Grootbrak Boekeblaf Lees- & Skrywersfees gaan dit sekerlik met die organiseerders soos met ’n brak wat ’n been gekry het.
“Ons kaartjieverkope was baie goed vir ’n eerste leesfees en ons was verras met die aantal mense wat kom ondersteun het,” sê Hannes Visser, een van dié organiseerders.
Die fees het Vrydagaand met openingstoesprake en literatuur en musiek afgeskop. Daarna was dit ’n Saterdag-program vol boekegesprekke, stories en musiek, en Sondag is die naweek afgerond en -gesluit met ’n heerlike ontbyt en Karoo-stories.
Die skrywers en kunstenaars het ingesluit Carina Stander, Sidney Gilroy, Chanette Paul, Jan van Tonder, Chris Karsten, Bets Smith, Julio Agrella, Hendie Grobbelaar, Daniël Lötter, Petronel Baard, Lluyle Arendse, Stef Kruger en natuurlik Visser self ook - almal uit die Tuinroete.
Visser, Gilroy, Paul en Baard het die leiband vir die fees vasgevat en hom in die regte rigting gestuur.
“Ek het verlede jaar vir Sidney en Chanette genader met die idee van ’n Afrikaanse boekefees op Groot-Brak. Hulle het dadelik ingestem, en ons het Petronel ook betrek,” sê Visser.
“Ons wou die Afrikaanse skrywers van die Tuinroete die geleentheid gee om hulle boeke aan mense bekend te stel en ook vir mense die geleentheid gee om die skrywers te ontmoet.”
Die naam het onder die organiseerders ontstaan omdat dit op Groot-Brak plaasvind, en hulle wil hê die mense moet kom saamblaf. Waar skrywers by ander feeste miskien BBP’s sou wees, was hulle hier BBB’s - baie belangrike blaffers! Daar is selfs ’n amptelike hondegelukbringer, Kandas Pieterse, die amptelike verteenwoordiger van almal wat wil en kan saamblaf.
Visser reken die hoogtepunt was waarskynlik Saterdagaand se optrede deur Baard, Kruger, Lötter, Gilroy en Arendse met ’n kombinasie van musiek en vertellings.
Gilroy sê die fees het al sy verwagtinge oortref. “Ek sien met groot opgewondenheid uit daarna om in 2026 van ons voorste Afrikaanse skrywers, musikante en kunstenaars na die Tuinroete te verwelkom!”
Vir Baard was dit ’n heerlike kuierervaring met besonderse mense betrokke. “Kuns van verskeie vorme het bymekaar uitgekom in ’n jubelende fees van woordkuns,” sê sy.
En volgens Visser was die terugvoer wat hulle ontvang het uitstekend. Die ATKV wat vir kos gesorg het en die boekverkoper Boekmania se terugvoer was ook baie positief, en hulle wil volgende jaar weer betrokke wees.
Visser sê hulle sien beslis dat die fees sal groei, maar in dieselfde asem sê hy ook dit moet steeds ’n fees wees waar skrywers en die gehoor tyd het om mekaar te leer ken.
Hulle gaan binnekort terugskouing hou om volgende jaar se fees te begin beplan en kyk na min of meer dieselfde datums as vanjaar.
“Met vanjaar se fees wat hoofsaaklik deur die ATKV en Mosselbaai se burgemeesterskantoor geborg is, kon ons al ons kostes dek, en daar was reeds navraag van mense wat tot volgende jaar se fees wil bydra,” sê Visser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’