Gallery
GEORGE NUUS - 'n Groep plaaswerkers van die Noord-Kaap was so beïndruk met die netheid aan die Tuinroete dat hulle dit nou in die Noord-Kaap waar hulle vandaan kom wil toepas.
Die groep van 55 plaaswerkers van die plaas Wildeklawer buite Barkly-Wes (sowat 55 km van Kimberley) het die Tuinroete van 17 Maart tot 20 Maart besoek.
Elizma Denner van Wildeklawer het Maandag 28 Maart gesê dis 'n groenteplaas en hulle verbou hoofsaaklik uie. Benewens die plaaswerkers het ander personeel van die plaas, waaronder Martin Oosthuizen, 'n oudonderwyser van Hoërskool Outeniqua ook saamgekom.
Die groep is saamgestel op grond van uitmuntende werksprestasie. Ouderdomme van die mans en vroue het gewissel van 20 tot in die 50's.
FOTOGALERY: Plaaswerkers van die Noord-Kaap kuier in Tuinroete
Die groep tydens 'n besoek aan 'n volstruisplaas by Oudtshoorn.
Die opgewonde groep het vroeg Donderdagoggend, 17 Maart, uit die Noord-Kaap vertrek. Die meerderheid het nog nooit voorheen die see gesien nie. Op pad na George is hulle verby Drie Susters en dit het al die tonge losgehad. Die groep het ook in Meiringspoort gestop waar hulle die bekende waterval gesien het.
Die groot hoogtepunt het anderkant die Outeniquaberg gewag. Die middag is hulle see toe by Glentana. "Hulle was oorweldig en wou net weet waar is die see se wal." (Hulle het die see met 'n dam vergelyk.) Nieteenstaande die koue water is almal die see in en daar is heerlik baljaar.
"Die volgende dag is 'n volstruisplaas by Oudtshoorn besoek en daarna die Kango-grotte. Daar het hulle binne die grotte spontaan die land se Volkslied gesing. Dit was hoendervleis oomblikke en baie mooi. Baie mense was in trane."
Later het hulle by Wilgewandel aangedoen waar 'n paar werkers kameel kon ry.
Die Saterdag het hulle Mosselbaai besoek en 'n draai gemaak by die Diaz-museum. Natuurlik was die groep baie beïndruk met die see en die res van die dag is op die strand deurgebring.
Volgens haar is daar elke aand informeel gesels oor die dag se hoogtepunte en laagtepunte.
Denner het gesê die groep was baie beïndruk met die mooiheid van die omgewing. By dit was daar ook 'n aspek waaroor hulle nie uitgepraat kon raak nie, naamlik die netheid van die gebied. Dit was een van die boodskappe wat hulle teruggeneem het Noord-Kaap toe.
"Dit was 'n onvergeetlike ondervinding. Elkeen wat dit meegemaak het, het 'n ryker persoon teruggekom. Geen geld in die wêreld kan so iets koop nie," het sy gesê.
Van die plaaswerkers het geleentheid gekry om kameel te ry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'