GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Natasha Fourie (49), die vrou wat Sondag in ’n tref-en-trap-ongeluk op die R102 naby Groot-Brakrivier oorlede is, se dogter wens sy kon net een laaste “Jy gaan okay wees, my bokkie” by haar ma kry.
Fourie se dogter, Kiara Nel (20), werk op ’n super-seiljag in die Bahamas en is tans op pad na Suid-Afrika. Sy het tydens haar tussenstop in Doha, Qatar, met Mossel Bay Advertiser gepraat.
Sy sê haar hart is stukkend – vir haarself, haar broers en enigeen wat oor haar ma omgegee het.
“Ek moes my klein boetie oor die foon in die oë kyk en vir hom sê…”
Die foto’s en herinneringe van haar ma het haar opnuut in trane op die lughawe gehad.
“Soos die nag stil raak, hoor ek jy is nie meer met ons op aarde nie. Daar is ’n swaar kol wat in my keel sit, ’n vinnige hartklop, swaar asemhaling.
“My mamma, of sal ek sê, my moeks, was meer as net ’n goeie mens - in elke donker kamer was sy ’n lig gewees. Nie net met haar unieke persoonlikheid nie, maar ook haar groot glimlag en blink blou ogies.
“Sy het altyd omgesien na dié wat om haar was, al het sy hulle nie geken nie. Sy was die mees liefdevolle mens wat ek geken het en ek wens dit was nie ons mamma wat deur dít moes gaan nie. Maar, saam staan ons gesin met die wete dat dit God se tyd was. Ons sal haar tot rus laat.
“Soos ek nou terugvlieg, die lang vlugte en ure van stilte, wens ek net hoe ek daar kon wees om net ’n laaste “Jy gaan okay wees, my bokkie” van haar af te hoor.”
Kiara sê haar ma was ’n see mens, en het altyd na die strand gegaan sodat die branders haar kop stil kon maak.
“Ek sal vir ewig in elke sonsopkoms en sonsondergang by die strand na haar roep.”
Natasha Fourie
Sy sê hulle is vier kinders wat sal lewe tot God hulle ook kom haal. En hulle sal lewe om haar trots te maak op die goeie kinders wat sy in die wêreld ingebring het.
“Sy was so ’n spesiale mens gewees; in soveel meer mense se lewens as wat ons gedink het. Ek vra vir elke persoon wat haar geken het dat God sy arms om julle saam met ons sal vou en vashou.”
Natasha Fourie
Sy hou aan die volgende Bybelvers vas deur hierdie tyd:
Matthew 11:28-30: "Come to me, all you who labor and are heavy laden, and I will give you rest. Take my yoke upon you, and learn from me, for I am gentle and lowly in heart, and you will find rest for your souls. For my yoke is easy, and my burden is light."
Fourie was ’n werknemer by Locals’ Pub & Grill in Groot-Brakrivier. Locals’ se bestuurder, Joleen Meyer, het gesê Fourie was maar net vir sowat drie weke deel van die span voor die ongeluk gebeur het.
Meyer sê dit is ook vir hulle ’n hartseer tyd. Voor Fourie se afsterwe het hulle verlede Woensdag, 16 Julie, nóg ’n kollega, Thokozile Msimango, aan die dood afgestaan. Die span sal later ’n huldeblyk aan Fourie lewer, sê Meyer.
Die Groot-Brakrivier-polisie se ondersoek na die voorval duur voort. Daar is klagte van strafbare manslag en dronkbestuur teen ’n 46-jarige man wat na bewering by die ongeluk betrokke was en glo van die toneel af weggery het.
Hy is gearresteer en het na wat verneem word gister, 21 Julie, in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Vorige artikel:
Tref-en-trap eis een lewe op R102
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’