GROOT-BRAKRIVIER NUUS - ’n Bromponieryer, ’n 49-jarige vrou, is die afgelope naweek in ’n tref-en-trap-ongeluk op die R102 tussen Groot-Brakrivier en Tergniet oorlede.
Die ongeluk, tussen ’n bakkie en haar bromponie, het net na 01:00 Sondagoggend, 20 Julie, plaasgevind.
Beide bestuurder en ryer was na bewering in Tergniet se rigting onderweg.
Volgens die polisiewoordvoerder, sers. Lauriane Botha, het die polisie ’n oproep ontvang dat die vrou en haar bromponie op die R102 gelê het. Sy is op die toneel dood verklaar.
Die bakkie se bestuurder, ’n 46-jarige man, het glo van die toneel af weggery. Hy is later by sy woning gearresteer. Botha sê daar is klagte van strafbare manslag en dronkbestuur teen die verdagte.
Die man het vandag, 21 Julie, in die Mosselbaai-landdroshof verskyn. Die saak is egter voorlopig van die rol geskrap aangesien daar nog op bloedtoetsuitslae gewag word. Wanneer hierdie uitslae ontvang word, sal die saak weer op die rol geplaas word.
Die verdagte is intussen vrygelaat.
Beide die slagoffer en die verdagte se identiteite is aan Mossel Bay Advertiser bekend, maar kon nog nie verder bekendgemaak word nie. Die slagoffer se liggaam moet nog formeel uitgeken word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’