GEORGE NUUS - 'n Onlangse klagte van 'n leser oor die toestand van 'n gedeelte van die R404 (die deel tussen Blanco en die lughawe) het die George Herald genoop om ondersoek in te stel.
Ná 'n navraag met verskeie foto's aan die departement van vervoer en openbare werke gestuur is, het die provinsiale woordvoerder Byron la Hoe erken dat daar inderdaad fout is met die pad.
"Daar is voortydige swigtings op die pad. Die aard en oorsaak van die swigtings word deur ‘n onafhanklike materiale spesialis ondersoek om seker te maak dat die regte prosedures met die herstel van die pad gevolg word. Sodra die ondersoek voltooi is, sal die department ‘n besluit maak oor hoe om dit te hanteer. In tussen word normale onderhoud toegepas," het hy gesê.
Dié pad, wat in 2015 oorgedoen is, was deel van 'n R105 miljoen-projek om die R404, wat die N2 met die Outeniquapas verbind, breër te maak. Tydens die projek is die hele 19,2 km-pad oorgedoen en breër gemaak. 'n Nuwe brug is ook oor die Modderrivier by Fancourt gebou.
'n Gedeelte van die R404 tussen Blanco en die lughawe. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'