GEORGE NUUS - 'n Vlytige 16-jarige Kwagga, Anzel van Wyk, is besig om so tussen haar skoolwerk deur in 'n ware entrepreneur te ontpop.
Anzel hou 'n paar balle in die lug om 'n ekstra inkomste te verdien. Dit het begin toe haar ouma vir haar met haar 14de verjaarsdag 'n naaldwerkmasjien gegee het.
"Ek het besluit dit kan nie net ongebruik staan nie en ek sal moet leer om iets te maak. Die eerste ding wat ek toe gemaak het, was 'n scrunchie."
Nadat sy 'n klompie scrunchies gemaak en haar tegniek verbeter het, het sy hulle op platforms soos Facebook, Instagram en TikTok begin bemark, en was verras met haar sukses.
Vandag is haar Scrunchie Bunchie-besigheid steeds aan die gang.
Die scrunchies is ook beskikbaar by 'n paar haarsalonne in George.
Sy maak ook kopbande met spesifieke temas. "Ek sal byvoorbeeld kopbande maak met 'n Valentynsdagtema, of vir die Kerstyd of Paastyd. Dis nogal gewild."
Verlede jaar het sy opgemerk dat baie mense wat graag van die aanlynwinkel Shein gebruik wil maak, dit nie doen nie omdat die invoerkostes so hoog is. Toe begin sy namens familie en vriende bestellings plaas. Dit het uitgebrei en sy doen bestellings namens enigiemand wat haar nader.
"Ek doen een groot bestelling en so spaar almal op die invoer. Ek maak nie so baie geld so nie, maar ek geniet dit," sê Anzel.
Sy het intussen ook klei-oorbelle begin verkoop wat sy self ontwerp en maak, én sy verkoop tweedehandse klere. "Ek glo klere kort 'n tweede kans en ek dra self preloved klere. 'n Mens kry kwaliteit klere wat nog in 'n goeie toestand is."
Met die aanbreek van 2024, het sy nog 'n inkomstestroom bygekry deur handgemaakte leerprodukte van 'n vervaardiger in Danabaai aanlyn te begin verkoop.
"Ek beskou myself as suksesvol. Ek maak oral 'n bietjie geld en dit stel my in staat om te spaar."
Wanneer sy geld inkry, probeer sy die helfte daarvan wegsit in 'n belegging. Die res gebruik sy om voorraad of materiale aan te koop vir die produkte wat sy maak.
"Ek is besig om te spaar om ná matriek vir my 'n kar te koop. Ek hou nie van skuld nie. Ek het my selfoon kontant gekoop nadat ek agt maande daarvoor gespaar het."
Anzel se kopband, soos die een wat sy hier dra, is baie gewild.
Anzel sê hoewel haar entrepreneurs-aktiwiteite haar besig hou, stel sy haar skoolwerk eerste en sy neem graag foto's in haar vrye tyd met 'n kamera wat sy by haar oorlede oom geërf het.
Sy het nie 'n begeerte om ná skool verder te studeer nie, maar wil eerder in besigheid ingaan. "Ek wil graag vir myself werk."
Te oordeel aan hoe sy nou reeds woeker, is hierdie besige by goed op pad om haar droom te bewaarheid.
Anzel by haar naaldwerkmasjien met van die scrunchies en tweedehandse klere wat sy verkoop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’