Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Met wapperende volstruispluime draai die 1926 Model T Ford by die parkeerarea in. Binne-in sit Greta Gericke en wuif soos 'n koningin vir die groep mense wat haar toejuig en hulle vlaggies swaai. Die geleentheid is die derde dag van die eeufeesviering van een van die mees inspirerende vroue van George: Greta Gericke.
Familie en vriende het van so ver as Engeland en Australië gekom vir tannie Greta se 100ste verjaarsdag. Die vieringe het oor drie dae gestrek en tannie Greta se vrolike glimlag het gewys hoeveel sy die geleentheid geniet. Die groot dag self, 12 Oktober, is gereserveer vir 'n intieme ete by die restaurant, 101 Meade, saam met haar ses kinders. Die koningin van die naweek is egter goed opgepas, want haar kragte moes nog vir twee dae se feesvieringe hou. Saterdagmiddag het die uitgebreide familie in die skuur op die plaas saamgetrek vir 'n fotosessie en 'n kuier wat tot laat die aand aangehou het.
Die saal was getooi met blou ballonne - tannie Greta se gunsteling kleur - en ruikertjies van inheemse blomme. Drie koeke, elk versier met foto's, het getuig van tannie Greta se vol lewe.
Terwyl die ongeveer 150 mense haar toesing, het sy haar wit sakdoekie in erkenning gewaai. Onder 'n gefluit en handegeklap het sy by elke koek stilgestaan en die kersies doodgeblaas - ál 100 van hulle! In haar toespraak het tannie Greta herhaaldelik beklemtoon dat dankbaarheid die oorwegende gevoel in haar hart is: dankbaarheid vir die lewe, die liefde en die alomteenwoordigheid van, in haar woorde, "ons Heer".
Sy het ook almal aangeraai om self 'n dankbare hart te kweek.
Sondagmiddag om 16:00 het 'n groep van ongeveer 200 vriende, belangstellendes en familie by die Moedergemeente se saal op haar aankoms gewag. Toe die Ford stilhou, het die Pacaltsdorp Boys Brigade blaasorkes losgetrek met Happy birthday to you en almal het nadergestaan om haar te sien. 'n Kort program is aangebied en die tema van dankbaarheid het weer opgeduik toe die hele saal die bekende Psalm, Prys die Heer met blye galme, gesing het.
Kyk 'n video hieronder:
Die eregaste wat tannie Greta se tafel gedeel het, is met geskenkies bedank vir hulle getroue ondersteuning oor die jare - sommige as versorgers en ander as geselskapdames. 'n Kort volkspelevertoning is gehou omdat tannie Greta saam met haar oorlede man, Burger (Buks) Gericke, baie jare lank leiding geneem het in die volkspelebeweging in hierdie streek. Mense het tougestaan om elk 'n kort woordjie met tannie Greta in te kry.
'n Jare lange vriendin wat die vorige aand heelhartig aan die toejuiging deelgeneem het, het tannie Greta se spitsvondigheid geniet: "Toe ek by haar kom, vra sy vir my met 'n vonkel in die oog: 'Verbeel ek my, of het ek jou gisteraand hoor fluit?'"
Tannie Greta is op 12 Oktober 1918 in Kaapstad gebore - 'n dag wat weens die honderde sterftes aan griep as "Swart Sondag" bekend gestaan het. Maar, met haar kenmerkende lus vir die lewe, was Greta nie een van die babas wat daardie dag in die hospitaal gesterf het nie. Greta het op 16 Desember 1942 met 'n boer van Hansmoeskraal,
Burger Gericke, getrou en sy woon steeds op die plaas, Die Bof, waar sy as bruid by hom aangesluit het. Die egpaar het 'n groot rol in die gemeenskap gespeel en was alombekend in George. Oom Buks is ongeveer 30 jaar gelede oorlede. In die 76 jaar wat sy hier woon, het tannie Greta diep spore getrap in die gemeenskap; altyd aktief besig met opvoeding, onderwys, gemeenskapsdiens en projekte om die CBD te verfraai.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'