GEORGE NUUS - Daar is toenemende aanduidings dat talle atlete, ná die skielike kansellasie van die oorspronklike byeenkoms in Rustenburg, moontlik nie later vandeesmaand aan die herskeduleerde nasionale skoleatletiekkampioenskappe by die Pilditch-stadion in Pretoria gaan deelneem nie.
'n Gesin van George is onder dié wat swaar getref is, nie net finansieel nie, maar ook emosioneel en oorweeg nou of deelname steeds haalbaar is.
Die kampioenskappe sou van 8 tot 12 April by die Royal Bafokeng-stadion plaasvind, maar is op die nippertjie gekanselleer. Dit is nou geherskeduleer vir 29 April tot 2 Mei.
Alicia Koen vertel dat hulle Sondagmiddag, terwyl hulle in Gauteng by familie gekuier het, van die kansellasie via 'n WhatsApp-groep te hore gekom het.
"Daar was voor die eerste skrywe op Goeie Vrydag geen vooraf waarskuwing nie. Toe is alle provinsies in 'n noodvergadering. Nuus oor die kansellasie Sondag, het ons heeltemal onkant gevang," sê sy.
Koen se 14-jarige dogter, Leané, is gekies om die Wes-Kaap te verteenwoordig, 'n prestasie waarvoor sy baie hard gewerk het. Sy neem deel aan diskus en spiesgooi vir meisies o.15.
Leané was in 2023 en 2024 die o. 12 en o. 13 SA kampioen in diskus. In 2025 en vanjaar het sy goud verower vir onderskeidelik diskus en spiesgooi in die Wes-Kaap.
Die gesin het reeds aansienlike uitgawes aangegaan om haar deelname moontlik te maak.
"Sy het haar plek in die span gekry en ons moes onmiddellik die span se kleredrag gaan koop. Dit was byna R1 000 net vir die klere," vertel Koen.
Dae later het hulle reis- en verblyfreëlings getref, insluitend akkommodasie van sowat R1 800 per nag vir twee dae, koste wat hulle nie sal kan verhaal nie. Verdere uitgawes is ten duurste aangegaan om vlugte te verander sodat Koen en haar kinders, insluitend Leané, betyds terug kon wees vir skool Woensdag.
"Die koste om die vlug te verander was byna dieselfde as die oorspronklike kaartjieprys," sê sy. Haar man het intussen agtergebly en vlieg terug soos aanvanklik beplan.
Volgens Koen het die gebeure nie net logistieke ontwrigting veroorsaak nie, maar ook 'n groot emosionele impak gehad, veral op Leané.
"Verlede jaar was dit ook maar chaoties in Bloemfontein, maar niks soos hierdie nie. Sondagmiddag met die eerste boodskappe was daar eers onduidelikheid en onsekerheid, toe die kansellasie. Dit het soos 'n dubbele slag gevoel."
Sy voeg by dat die tydsberekening van die nuwe datum verdere komplikasies inhou.
"Dit val oor 'n langnaweek en bots met ander verpligtinge. Leané het byvoorbeeld 'n netbaltoernooi daardie naweek," sê Koen.
Hierdie faktore, saam met die finansiële verliese en ontwrigte voorbereidings, laat baie gesinne twyfel oor deelname.
"Baie ouers wat ons ken, het reeds aangedui dat hulle kinders nie gaan deelneem nie. Verskeie ouers het ook al die nodige dokumentasie aangevra om hul kinders formeel te onttrek. As jy dit nie doen nie, kan jy finansieel aanspreeklik gehou word vir die spanuitrusting wat verskaf word," verduidelik sy.
Intussen bly die grootste uitdaging vir haar dogter die emosionele nasleep.
"Sy praat nog min daaroor. Ek dink sy probeer dit nog verwerk. Atlete oefen maande lank vir só 'n byeenkoms. Hul roetines, dieet en voorbereiding word alles daarvolgens ingerig. Met so min tyd oor, weet mens nie of hulle weer hul piek sal bereik nie."
Vir nou is dit nog onseker of Leané wel aan die herskeduleerde byeenkoms gaan deelneem, 'n besluit wat toenemend ook deur ander gesinne oorweeg word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’