GEORGE NUUS - Niemand wil in 'n area woon, of 'n belegging maak, in 'n plek wat nie stabiel is nie. Om stabiliteit te gevestig het deur middel van oop kommunikasie, na mense te luister en goeie verhoudings te bou, is vir die voormalige burgemeester van die Tuinroete-distrik, Andrew Stroebel, sekerlik die belangrikste deel van sy nalatenskap.
Stroebel se laaste dag op kantoor was verlede Vrydag, 31 Oktober. Hy is verlede jaar, 5 Julie, as Tuinroete-burgemeester verkies, en was dus vir 514 dae (16 maande) in die amp.
Sy bedanking het die dorp onkant gevang, maar hy het wel tydens 'n vorige onderhoud bevestig dit was nooit sy plan om die termyn te voltooi nie - sy taak was om 'n paar goedjies reg te ruk.
Op 'n vraag wat hy die meeste gaan mis, het Stroebel geantwoord, "Beslis die brand-weer- en rampbestuurspanne en hul werksaamhede. Om inwoners in tye van nood te kan help en lewens te red is sekerlik die toppunt van uitnemende dienslewering."
En sy antwoord vir dit wat hy graag agterlaat? Sondagaande se laatnagvoorbereidings vir die week.
Stroebel is steeds woonagtig in die Tuinroete, waarna hy verwys as "die mooiste adres in die land". Sy liefde vir klassieke motors is 'n stokperdjie wat hy tydens sy diens as burgemeester gemis het.
"Maar ek beplan reeds my volgende projek," bevestig hy. "Ek sien uit na my Harley-Davidson Fat Boy en wonderlike mense waarvoor ek baie lief is, wat wag by die huis."
Op 'n vraag oor sy betrokkenheid by die DA, het hy gesê op die huidige stadium gaan hy totaal apolities funksioneer. "Ek is 'n entrepreneur van harte. Die privaat sektor het my kom haal."
Terugblik
Op 'n vraag oor sy nalatenskap verduidelik Stroebel dat daar baie hindernisse in die pad was, maar dat die organisasie intussen bestuur moes word, en vorentoe geneem word.
Hy lys die volgende hoogtepunte van sy termyn:
- Reusekostebesparings is behaal deur doelgerigte besnoeiings, terwyl die distrik se likiditeits-verhouding merkbaar verbeter het.
- Kommunikasie oor werk-saamhede is versterk, en verskeie sektore - onder meer landbou, die lughawe, omgewingsorganisasies en sakekamers - is suksesvol betrek vir gesamentlike gesprekke.
- Die beleid oor honde is ingestel, en ten spyte van talle hewige brande is geen lewens verloor nie. Toerisme is aansienlik versterk, met volgehoue groei in oornagbesprekings en toenemende passasiersgetalle by George-lughawe. Die distrik se beeld is herstel deur konstante positiewe inisiatiewe.
- Die noodoproepsentrum, wat maandeliks meer as 25 000 oproepe hanteer, funksioneer doeltreffend.
- Die gesondheidskrisis rondom "pilletjies" in aartappelskyfie-pakkies by informele handelaars is suksesvol aangespreek deur versterkte wetstoepassing.
- Waterkrisisse in die distrik is doeltreffend bestuur om tydige voorsiening aan inwoners te verseker. 'n Afslagmaandtarief vir pensionarisse by karavaan-parke is ingevoer - 'n eerste vir die distrik.
Lees Stroebel se opiniestuk 'Governance: Options for George Local Municipality'
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’