Gallery
GARDEN ROUTE NEWS - Boere van Noll in die Langkloof, en selfs so ver as Krakeelrivier naby Joubertina is onkant gevang toe rukwinde, hael en reën verlede Donderdag, 5 Februarie, verwoesting in die area gesaai het.
Boere wat reeds as gevolg van die droogte wat die gebied al vir maande teister, onder groot druk funksioneer, staan nou gebuk onder nog verliese.
Johann Reinecke, ’n boer van die Noll-area, sê hy het nog net 5% van sy oes gepluk toe die storm uitgebreek het. Hy skat dat hy ongeveer 60% van die oorblywende oes verloor het. Daar was natuurlik ook skade aan ander bome en drade.
Donald Strydom wat in die Krakeelrivier-area boer, sê dat ’n verskeie faktore ’n rol gespeel het, soos of die boorde nette gehad het of nie. Boorde sonder nette het 100% skade opgedoen en is ’n totale verlies. Tot sy verbasing het selfs die boorde met nette windskade opgedoen en is ’n groot deel van die vrugte afgewaai. Hy skat dat hulle in totaal omtrent 40% van hulle oes verloor het. Daar is ook langtermynskade, soos jong bome wat hul bas verloor het.
Strydom sê die volle impak sal eers oor tyd regtig duidelik word. Hy is egter dankbaar dat daar min skade aan vaste strukture was.
Vrugte is selfs onder die nette afgewaai. Foto: Donald Strydom
Ander boere het vertel dat rukwinde dakke van geboue afgeruk het, vrugteboorde beskadig is en tonne appels en pere van bome afgeruk is. Groot bome is ontwortel en verskeie strukture is beskadig.
’n Winkeleienaar het vertel dat die wind kort ná 16:00 skielik opgesteek het.
“Reusebome het gelyk asof dit met die hand opgetel en verdraai is. Kraglyne is afgeruk. ’n Groot deel van die Langkloof is deur die wind beskadig,” het sy vertel.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’