GEORGE NUUS - Persoonlike verhale van triomf en die veerkragtigheid van 'n gesonde leefstyl is in die visier van Sanca Garden Route*, wat hierdie Saterdag, 29 Junie, die keuse van 'n sober leefstyl by die Tuinroete Botaniese Tuin vier.
Die geleentheid 'Celebrate Sobriety' beloof 'n middag vol vreugde, inspirasie en samehorigheid van mense wat die reis na 'n gesonder lewe gekies het.
"Ons gaan saamkom om die lewens te vier van persone wat ‘n sober en dwelmvrye leefstyl bereik het en om ondersteuning te bied aan individue op hul reis na herstel," het Sanca se direkteur, Denise de Beer, gesê.
Die byeenkoms vind van 14:00 tot 16:30 by die konsertarea in die tuin plaas. Toegangsfooi is R30 per persoon en dit kos R10 vir parkering binne die terrein.
Alle deelnemers sal die geleentheid kry om 'n boodskap van hoop op 'n geel vlaggie te skryf en aan ander Sanca-kliënte, in verskillende stadiums van herstel, te gee. "Hierdie vlae sal vertoon word by ons verskillende dienspunte in George en Mosselbaai," het De Beer gesê.
Twee sprekers sal hul motiveringstories deel en 'n spesiale gedeelte in die Tuinroete Botaniese Tuin sal toegewy word aan die "pad na herstel".
Op hierdie voetpaadjie sal daar 13 stasies wees waar jy kan mediteer oor jou reis van herstel. Dit is nie net gerig op persone met ‘n substansgebruik probleem nie, maar kan toegepas word in ander lewensareas.
*Sanca (South African National Council on Alcoholism and Drug Dependence) is 'n nie-winsgewende organisasie wat voorkomingsdienste, vroeë intervensie, gemeenskapsgebaseerde terapie en nasorgdienste aan individue en hul gesinne bied wat deur skadelike alkohol- en/of dwelmgebruik geraak is.
Vir navrae kontak Sanca George-kantoor by 044 884 0674 of stuur 'n e-pos na adminlivefree@sancagr.org
Die Sanca-span in George, met hul 30ste verjaarsdagviering op 24 Mei vanjaar: Mzoli Mavimbela, Vanessa Titus, Clarice Louw, Kezia Booi, Unique Lottering, Zonnica Scheepers, Janine Heathcote, Denise de Beer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’