GEORGE NUUS - 'n Nuwe DA-kandidaat in George, Brendan Adams (43), wat ook deur baie as "Stam" aangespreek word, is 'n stamhoof in die Links Korana koninklike huis. Hy is trots op sy tradisionele afkoms en het die nodige papiere om dit te bewys.
Hy is onlangs aangewys as die DA se kandidaat in wyk 17 en baie mense ken hom ook vir sy betrokkenheid by die Facebook-blad, Lokasies Staan Saam.
Sedert dit bekend geword het dat Adams nou weer aktief die politiek betree, het sommige mense op sosiale media vrae gehad oor sy titel.
Adams het Maandag by navraag gesê hy is 'n erkende stamhoof en baie trots daarop.
Hy is 'n paar jaar gelede deur Khoebaha Michael Links, die heersende bewindhebber van die !Xam-Ka Ke Korana-nasie, as sulks aangestel. Hy is die koning van die Links koninklike huis en word deur die staat erken as 'n tradisionele leier.
Stamhoof Brendan Adams met 'n tradisionele staf.
Adams het 'n brief van Khoebaha Michael Links beskikbaargestel waarin sy aanstelling bevestig is. Hy het die brief ook aan die George-munisipaliteit gestuur.
"Ek het my stamboom gaan navors en by Links, ouderlinge in die familie en ander vasgestel waar ons familie vandaan kom."
Volgens Adams is hy die jongste stamhoof. Adams beskou homself as 'n moderne tradisionele leier.
"Ek respekteer die ouer leiers se siening oor tradisionele kleredrag en gebruike."
Brendon Adams, gemeenskaps- en tradisionele leier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'