GEORGE NUUS - Onderwysers van Pacaltsdorp Primêr Skool is verlede Vrydag, 8 Augustus, knap voor Vrouedag, behoorlik bederf. Die manne van die skool het gesorg vir heerlike eetgoed, tafelversierings en 'n spekboom wat seremonieel langs die rugbyveld geplant is - 'n herinnering aan hierdie intieme uur van samesyn en dankbaarheid.
Dit was vir my 'n ongelooflike voorreg om hierdie groep vroue as gasspreker toe te spreek.
Ek glo vroue is soos die bome van 'n gemeenskap: Soos bome gee vroue suurstof (inspirasie), skaduwee (koelte in die gemoed), en 'n anker (standvastig in wind en weer).
Elke dag plant onderwysers iets in die hart van 'n kind. Nie net wiskunde of Afrikaans nie, maar geloof, moed en selfvertroue. Hulle sien potensiaal waar ander net gedrag sien. Hulle sien drome waar ander net tekortkominge sien. Hulle sien 'n vonkie in 'n kind lank voordat daardie kind dit self raaksien.
Want die kinders wat vandag 'n hand opsteek vir 'n vragie, is die leiers, ouers, dokters, kunstenaars en onderwysers van môre.
Om hulle te herinner dat die toekoms van ons land in baie opsigte in hulle hande is. Onderwysers maak saak.
- Die eerste Nasionale Vrouedag het op 9 Augustus 1994 plaasgevind. Dié dag herdenk die nasionale optog van vroue op hierdie dag in 1956, om beswaar te maak teen wetgewing wat Swart Afrikane verplig het om 'n pas te dra.
Onderwysers en weldoeners van Pacaltsdorp Primêr, saam met die gasspreker, Michelle Pienaar (middel). Foto: Charlton Potts
Angelique Vezasie, voorsitter van die beheerliggaam (links), Michelle Pienaar, George Herald-verslaggewer en gasspreker, en Venita Saayman, naaldwerkster van formaat en die vrou wat gereeld leerders vervoer. Regs agter is Shanelda Hamad, hulporganiseerder van die geleentheid. Foto: Charlton Potts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’