Update
GEORGE NUUS - 'n "Vriendskaplike oplossing" word tans gesoek vir die meningsverskil tussen die ontwikkelaar van Le Grand en die George-munisipaliteit oor wie vir die teer van die Hansmoeskraalpad verantwoordelik is.
Dit is volgens die munisipaliteit wat gereageer het op 'n navraag van George Herald nadat hernieude klagtes oor die toestand van die grondpad ontvang is.
Die munisipaliteit het by navraag gesê, "George-munisipaliteit was met die ontwikkelaar in verbinding en die partye is besig om te koördineer in die soeke na 'n vriendskaplike oplossing."
Die ontwikkelaar, Jacques Gouws, is verlede week genader na aanleiding van klagtes. Hy het by navraag gesê hulle is "net so moedeloos" oor die toestand van die pad.
"Ons voertuie en personeel is daagliks daarop. Ons kan ongelukkig net die navraag na die George-stadsraad verwys aangesien die beplanning, bou en onderhoud van paaie die stadsraad se funksie is. Ons sal ook die stadsraad se terugvoering waardeer."
Die pad bedien nie net vir Le Grand nie, maar talle omliggende eiendomme asook die Gwaiing-strandgebied. Die teer van die pad was deel van die ontwikkelingsvoorwaardes vir die aanvanklike gholfbaan-ontwikkeling. Nadat die oorspronklike ontwikkelaar insolvent geraak het, het die eiendom 'n paar keer van hande verwissel en daar blyk 'n meningsverskil tussen die munisipaliteit en huidige ontwikkelaar te wees oor wie vir die teer van die pad verantwoordelik is.
George Herald het voorheen ook berig dat die ontwikkelaar met die munisipaliteit in gesprek is oor die kwessie.
Vorige artikels:
- Kans vir inwoners om petisie oor Hansmoeskraalpad te teken
- Besluit oor Hansmoeskraalpad hang af van grondgebruik
- Inwoners soek sekerheid oor teer van pad
- It's a gravelly trip to tarring Gwaiing road
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’