GEORGE NUUS - Sean Snyman se toewyding aan liefdadigheidswerk vir kinders met gestremdhede is sterker as ooit.
Snyman gaan al sy toekomstige padwedlope daaraan wy om geld in te samel vir die jeug wat nie aan sport kan deelneem nie.
"Vandag is die dag wat ek myself daaraan toewy om groot te gaan vir die jeug van George wat met gestremdhede leef deur by die Outeniqua Harriers as lid aan te sluit.
"Ek glo deur 'n lid te word sal dit my toewyding versterk om te oefen, deel te neem en beter resultate te kry aangesien ek elke amptelike geleentheid sal toewy aan daardie kinders wat weens fisiese uitdagings geen sport kan beoefen nie.
"Die hoop is om toerusting, afrigters en ander bystand vir verskillende sportkodes te kry," sê Snyman op sy Facebook-blad op 20 Junie.
Snyman is self bekend met die uitdaging om met gestremdhede aan sport deel te neem. Voor twee padongelukke hom met permanente beserings gelaat het, was hy 'n toege-wyde besoeker aan die gimnasium. Tot ses dae per week.
Maar 'n motorfietsongeluk in 2007 het hom met vier gekraakte rugwerwels gelaat en 'n jaar later in 2008 het 'n motorongeluk hom met 'n borsbesering en 'n onbruikbare regterarm gelaat. Dit was eers in 2020 wat hy regtig weer begin oefen het, maar toe kry hy vyf keer Covid wat sy liggaam baie verswak het.
In Desember 2023 het Snyman weer besluit om te volhard met oefening toe hy besef het hy weeg 151 kg. Hy het begin deur parkruns te loop en weens die ondersteuning wat hy daar gekry het, was sy dryfkrag van vooraf aangewakker en hy wou vinniger en meer doen.
Sedertdien het hy al 21 kg afgeskud en op 17 Junie het hy sy grootste prestasie nog aangeteken toe hy die McDonald's to McDonald's 10 km-padwedloop in 'n tyd van 1 uur en 20 minute voltooi.
"Wat my baie trots maak is die feit dat ek nie veronderstel is om te kan hardloop nie, ek is nie eens veronderstel om ordentlik te kan loop nie. Die dokters kan nie glo ek kan 'n 5 km doen nie, wat nog van 10 km," sê Snyman.
Snyman voel sterk dat kinders met gestremdhede ook die geleentheid moet kry om te voel hoe dit voel om deel van 'n sportgemeenskap te wees en om jouself te druk en uitdagings te oorkom.
Snyman en sy honde is gretige parkrun-atlete. Hier is hy saam met Skye.
"Daar is kinders wat nooit die geleentheid kry nie, net omdat daar nie geld vir toerusting is nie. As hulle nie ondersteun word nie, hoe gaan hulle ooit die geleentheid kry om aan sport deel te neem?" vra Snyman.
Enigiemand wat Snyman wil ondersteun kan uitreik na die Eden Lion's Klub wat donasies namens hom hanteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’