GEORGE NUUS - Delvillepark Primêr gaan weer soos 'n splinternuwe sikspens lyk wanneer die skole vir die tweede kwartaal heropen.
Die skool het reeds in Desember begin met hul skoonmaakprojek en almal het sover 'n hand bygesit.
Volgens die onderwysers is die skool ook nie meer 'n jong dame nie en verdien om bietjie opgetof te raak sodat sy weer kan pronk met haarself.
Die personeel het self ingespring en 'n kwas of roller gegryp en begin verf. Vickia van Heerden, 'n onderwyser by die skool, sê hulle wou 'n voorbeeld vir die leerders stel. "Ons wou hulle wys ons is ook mens. Dat ons ook ons hande kan vuil maak, en rolmodelle vir hulle kan wees."
Die projek was ook Van Heerden se inisiatief en sy is trots dat hulle al die verskil kan sien.
Sy sê hoekom hulle self betrokke geraak het, is om 'n positiewe beeld uit te straal na die ouers en die skoolgemeenskap. Volgens van die onderwysers het die skool in die verlede nie 'n goeie beeld gehad nie, en hulle probeer dit nou verander deur self 'n voorbeeld vir die ouers en leerders te stel.
Van Heerden sê daar is wel mense aangestel wat die werkies doen, maar meer hande help dat die werk gouer gedoen word. Peter Noble, nog 'n onderwyser by die skool, sê die inisiatief was om vir die leerders te wys, jy kan iets doen om jou omstandighede te verbeter. "Jy hoef nie in haglike omstandighede te leef nie."
Noble sê hy is lief vir kuns, en om die skool te verf is 'n vorm van kuns en dis hoekom dit vir hom 'n plesier is.
Die personeel van Delvillepark Primêr se hande staan vir niks verkeerd nie, selfs nie om bietjie vuil te raak vir 'n goeie projek nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'