Gallery
GEORGE NUUS - 'n Oudonderwyser van Pacaltsdorp, Anthony Noble, het drie kunstenaars van Thembalethu onder sy vlerk geneem.
Noble help nie net met kunsmateriaal en tegniek nie, hy maak seker die res van die dorp kan hul werke besigtig. 'n Uitstalling met skilderye van Thembinkosi Earnest Ntseke en beeldhouwerke van Thando Juta is tot einde Augustus in Thembalethu-biblioteek te sien.
Die derde kunstenaar, Nkosinathi Menziwa, is 'n gepubliseerde skrywer wat onlangs by die Noble-clan aangesluit het.
Menziwa wil graag met beeldhou eksperimenteer en sien Noble in dieselfde lig as die ander twee kunstenaars - 'n mentor wat geleenthede skep vir hardwerkende, kreatiewe siele.
Noble wei homself deesdae voltyds toe aan kuns en word gereeld genooi vir privaat funksies, waar hy skilderdemon-strasies gee. Die kunstenaars vir wie hy as mentor optree volg nou in sy voetspore en doen dieselfde by hul uitstallings. Die demonstrasies is weeksdae van 14:00 tot 16:00.
FOTOGALERY: Uitstalling met skilderye en beeldhouwerke by Thembalethu-biblioteek
Thando Juta, in sy vroeë dertigs, het 'n slag met beeldhou en kleiwerk. Noble het vier gasoonde by sy huis en nege pottebakkerswiele, waar hy les gee. "Ek ontgin en bewerk al my eie klei saam met Ntseke, wat my die afgelope vyf jaar daarmee help.
Olieverf op doek deur Thembinkosi Earnest Ntseke.
Demonstrasies
"Wanneer die kunstenaars demonstrasies doen, sit die kinders vasgenael in daardie biblioteek," het Noble gesê.
"Ons probeer die Thembalethu-biblioteek omskep in 'n kultuursentrum vir die kinders van die gebied. Die kunstenaars vir wie ek as mentor optree is so honger vir geleenthede, en hulle kry min. Hulle is baie opgewonde oor alles. Sedert die pandemie is hulle werkloos en ek skep vir hulle geleenthede. Hulle gaan ook op Erfenisdag by die George-skouterrein uitstal."
Noble is al die afgelope 14 jaar besig met skilder-demonstrasies, wat groot aanklank onder die publiek vind.
"Dit is 'n manier om kuns na die mense te bring. 'n Kind vra sy ma die een keer of ek 'for real' is, en daar kry ek 'n knyp van die jongeling, net om seker te maak ek is werklik eg. Vir 'n kind om so 'n demonstrasie te ervaar is iets wat hulle nooit sal vergeet nie," het Noble gesê.
"'n Ander dogtertjie het haar oupa na die biblioteek geneem om te kom kyk. Dit was die eerste keer in ses jaar wat hy George-biblioteek besoek het."
Thando Juta wys van sy beeldhouwerke.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'