GEORGE NUUS - Die Geelhoutboom VGK skool in Molensdrift, sowat 18 kilometer buite George, kan weer sê hulle is trots op hul klein plaasskooltjie.
Die skool wat 'n nie-winsgewende skool is en slegs 'n persentasie per leerder van die staat kry, sê 'n onlangse skenking van Eskom het hul wêreld verander.
Jacobus October, die skoolhoof, sê hy is sowat 'n jaar en 'n paar maande by die skool. "My eerste prioriteit was om 'n goeie leeromgewing te skep. Ek het ook onmiddellik al die probleme geïdentifiseer waar veranderinge aangebring moes word."
October sê dit was sy eie inisiatief, maar het dit eers met sy personeel bespreek, voor hy 'n voorlegging aan Eskom gedoen het.
Hy is absoluut verheug met die veranderinge en die verskil wat dit aan gemoedere by die skool gebring het. Die skool het met 'n water reiniger, nou skoon drinkwater in hul kombuis, die toilette is opgegradeer en hulle het ook 'n splinternuwe rekenaarbediener gekry.
Liz Dekker wat in beheer is van Eskom se sosiale en ekonomiese ontwikkelingsprojekte, sê die donasie was ter waarde van R206 436. Dekker sê die impak van die skenking het 'n positiewe uitwerking gehad op die personeel asook leerders.
"Hulle het uiteindelik toilette wat werk en 'n gebou wat nie klam en koud is nie. En nou dat die ligte werk, kan funksies wat saans gehou word veilig gedoen word."
Dekker sê noudat die rekenaarbediener reggemaak is, kan hulle sonder enige probleme voortgaan met hul rekenaaronderrig.
October sê die bediener was buitewerking en die skool is 20 jaar gelede laas geverf. Hy sê die skool is nou mooi skoon, elke klaskamer is binne en buite geverf en met die grassnyer kan hulle nou self hul skoolterrein netjies hou.
"Al wat ons nou nog nodig het is 'n skenking om vir die gr. 1-leerders 'n ordentlike speelterrein te bou."
Enigiemand wat 'n skenking aan die skool wil maak, kan October by die skool by 044 881 0036 kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'