GEORGE NUUS - Seniors wat deelgeneem het aan die Active Ageing Games op Donderdag 29 Mei het gewys dat ’n hoër ouderdom jou nie hoef te ontneem van prettige dinge soos sport en speletjies nie.
Ongeveer 200 lede van 10 seniorklubs in George en omgewing, van so ver as Uniondale en Haarlem, het na die Pacaltsdorp-sportstadion opgetrek om op die atletiekbaan kragte te meet.
Van die 60-plussers van Outeniqua Harriers se Just Breathe-klub het ook deelgeneem.
Die afdelings het ingesluit ring-om-die-stok, rugbybalgooi, skyfskiet, jukskei, eendstap en bal-aangee. Vir hardlopers was daar 100 m-, 200 m-, 400 m- en 800 m-naellope en stappers kon aan die 500 m-stap deelneem.
In die Wes-Kaap word die spele deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport aangebied as deel van ’n nasionale inisiatief om fisiese en sosiale welsyn onder ouer persone te bevorder.
Vriendskappe word gesmee en daar is deelnemers wat hernieude sin hul lewens ervaar.
Blanche Benjamin, voorsitter van die Wes-Kaapse en George Forum vir Ouer Persone wat help met organisering, het die George-munisipaliteit bedank vir hulle ondersteuning.
“Speaker Sean Snyman het ook deelgeneem, die eerste raadslid ooit om in te skryf en hy het dit baie geniet.”
’n Span van 60 mense is gekies om George op 21 Augustus by die distrikspele in Oudtshoorn te verteenwoordig, waar die Tuinroete-span gekies sal word om deel te neem aan die provinsiale spele in Oktober.
FOTOGALERY: Seniors wys hul talente in die Active Ageing Games
Bal-aangee is groot pret. Die laaste lid van die span wat die bal kry om vorentoe te hardloop, moet 100 m na die wenstreep aflê.
Die dames haal uit in ’n naelloop.
Lede van die Lukhanyiso Love in Action Meals on Wheels Community Services-span in ’n vrolike luim langs die veld.
Mietjie Blignault (links) en Roos Dekela is van die Uniondale-bejaardeklub.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’