Video
GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit moes ’n kontrakteur huur om ’n privaat eiendom in Hyacinthstraat in Pacaltsdorp op te ruim waar die bewoner van ’n vervalle huis al vir ’n geruime tyd sakke vullis versamel en in sy agterplaas uitgooi om te soek na herwinbare items.
Op vullisverwyderingsdag, wanneer inwoners hulle vullissakke op die sypaadjie uitsit, dra Samuel Wonderlik dit na sy blyplek in die hoop om items te vind wat hy kan verkoop om ’n inkomste te verseker.
Hy was daar verlede Donderdag toe George Herald gaan kyk het waaroor die klagtes gaan. Wonderlik het vertel hy kan nie werk kry nadat hy sy identiteitsdokument verloor het nie en hy kan nie die aansoekfooie bekostig nie.
Die daklose huis bied nie veel skuiling teen die elemente nie. Volgens Wonderlik het die dak afgebrand, maar bure sê dit het stuk-stuk verdwyn.
’n Tweede man het tydens ons besoek by die huis opgedaag en homself voorgestel as Wonderlik se ouer broer, Samuel Fouché. Hy het gesê die huis is in hulle familie se besit, maar hy (Fouché) woon elders.
’n Buurvrou, Liesl da Silva, het gesê sy het al aangebied om Wonderlik te help om ’n nuwe ID te bekom, maar dit het na niks gelei nie.
“Die probleem met die vullisopgaardery kom al van verlede jaar af. Dis al verskeie kere by die munisipaliteit en die raadslid aangemeld, maar niks word daaraan gedoen nie. Dit skep ’n gesondheidsgevaar. Ons sien gedurig muise of rotte hier rondhardloop. Dit doen ook afbreuk aan ander eiendomme in die area.”
Die huis is sonder dak. Foto: Verskaf
George Herald het vroeër ’n navraag oor die situasie aan die munisipaliteit gestuur wat daarna ’n kennisgewing op Wonderlik bedien het om sy erf teen 25 Julie op te ruim. Wonderlik het egter in gebreke gebly om dit te doen.
Die hoof van parke en ontspanning, Nosidima Vumindaba, het gesê ’n kontrakteur is toe aangestel en die erf is skoongemaak.
Die munisipaliteit het ook die aangeleentheid verwys na die George-gemeenskapsontwikkelingsafdeling van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling as ’n hoëprioriteitsaak.
Die departement het by navraag gesê 'n sosiale werker het die perseel besoek in 'n poging om met die bewoner kontak te maak, maar hy was nie tuis nie. "Verdere opsies word tans ondersoek om te verseker dat hy die gepaste ondersteuning ontvang."
VIDEO VERSKAF: Kyk 'n video waar die opruiming begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’