GEORGE NUUS - Sanca Tuinroete nooi gholfentoesiaste, besighede en die gemeenskap om deel te wees van hul jaarlikse liefdadigheidsgholfdag op Donderdag 26 Junie by Kingswood-gholfklub. Hierdie dag, geborg deur Nissan DTM George, beloof nie net hope pret op die baan nie, maar ondersteun ook 'n belangrike saak.
Die doel van die dag is om geld in te samel vir noodsaaklike herstelwerk aan Sanca se fasiliteit, sodat dit 'n meer bevorderlike terapeutiese ruimte kan wees vir persone wat hul stryd teen alkohol- of dwelmmisbruik aanpak.
Hierdie opgraderings sal bydra tot die verbetering van lewenskwaliteit, ontwikkeling van sosiale vaardighede en herstel van familieverhoudings.
Daar is verskeie geleenthede vir borge om betrokke te raak en Sanca kan op versoek artikel 18(A) belastingaftrekbare kwitansies uitreik.
Besonderhede van die dag:
- R700 per persoon
- Formaat: Better Ball Stableford
- Tee-off: tussen 10:30 en 12:00
- 4-Bal inskrywings: R2 800 per span (inkl. gholfkarretjie)
- Besprekings: bookings@kingswoodgolf.co.za
- Registrasie sluit: 12 Junie
Direkteur Denise de Beer sê die gholfdag vorm deel van hul groter bewusmakings-inisiatief vir dwelmmaand in Junie. "Ons sien uit daarna om binnekort die resultate van ons navorsing oor die behoefte aan binnepasiënt-behandeling in die Tuinroete te deel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’