GEORGE NUUS - Sakkie van Zyl (64) van George het onlangs 'n groot mylpaal bereik toe hy sy 250ste eenheid bloed in 46 jaar geskenk het. Hy het op 18-jarige ouderdom 'n skenker geword, en daarna het dit 'n prioriteit geword.
"Ek het in al die jare omtrent 24 keer gemis weens operasies of siekte, maar andersins sorg ek dat ek elke tweede maand skenk. 'n Mens voel fisies goed nadat jy geskenk het.
"Toe ek jonger was, het ek my werksmense en my seuns ook aangemoedig en ons sou almal saam in 'n kombi na die bloedbank toe ry. Wanneer ek uitstedig was en dit was tyd om te skenk, het ek die naaste bloedbank gesoek en al moes ek ver stap om daar te kom, het ek gesorg dat ek dit nie mis nie," vertel hy.
Van Zyl se vrou, Elsabé, het al 113 eenhede bloed geskenk. Sy het ook op 18 begin, maar het nie daarmee volgehou nie. Sy het weer begin toe sy Sakkie leer ken het.
"Dis vir ons lekker om saam te gaan. Die personeel is vriendelik en daar is 'n koffiemasjien en TV, so jy hoef nie verveeld te wees nie." Die hele proses neem ongeveer 'n uur.
Die Wes-Kaapse Bloeddiens het Van Zyl twee jaar gelede 'n erelid gemaak. Die feit dat hy ander help deur bloed te skenk, is vir hom 'n groot aansporing.
"Elke eenheid bloed red drie lewens, so ek het dus al 750 mense se lewens help red. Ek hoop om met my storie ander mense ook aan te spoor om te skenk."
Mense kan die Bloeddienssentrum in George besoek in die Mediese Sentrum (Medical Centre) in Courtenaystraat of bel hulle by 044 874 2074.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’