GEORGE NUUS - 'n Bekende in onderwys- en sportkringe is Saterdag by wyse van 'n 'All Black'-begrafnis gegroet.
Die gedrapeerde 'All Blacks'-vlag oor die kis was die stille getuienis van Johannes 'Ouses' Milford se onwrikbare geloof in en liefde vir die Nieu-Seelandse rugbyspan.
Milford (63), 'n oudonderwyser van Hoërskool Pacaltsdorp, is Saterdagoggend op sy tuisdorp, Nababeep, in Namakwaland, ter ruste gelê.
Milford het in Oktober 2024 in Pacaltsdorp twee beroertes gehad. Volgens sy vrou Linda, was hy verlam in die linkerhelfte van sy lyf en sy linkerbrein was ook geaffekteer.
Hy was dus aan 'n rystoel gekluister. Vroeër vandeesmaand het hy en Linda (néé Stoffels) na Nababeep gereis sodat Milford by sy familie kon wees. Hier het hy op 15 Januarie na 'n derde beroerte gesterf.
Ds. Henry Pienaar van die Calvyn Protestantse Kerk het die begrafnis waargeneem.
Tydens 'n huldeblyk het Milford se neef, Brendon Ruiter, vertel dat dit Milford se wens was om "in die kloof" se begraafplaas, te Nababeep, begrawe te word. Naweke was hy lief om te sing daarom het Judith Cloete, 'n familiekennis, een van sy geliefkoosde sangstukke, Jerusalem, tydens die begrafnisdiens gesing.
Milford was onder meer 'n leer-areabestuurder by die Springbok-onderwyskantoor.
Milford het ook onderwys gegee by Hoërskool SA van Wyk en Matjieskloof Primêr naby Springbok en was as bestuurslid betrokke by die Rangers-rugbyklub in Bergsig, Springbok.
Vandaar het hy na George verhuis waar hy by Hoërskool Pacaltsdorp onderwys gegee het. Intussen het hy vir Linda ontmoet en is met haar getroud. Die egpaar het ná sy aftrede in Pacaltsdorp gewoon.
Volgens die bestuur van die huidige Pacaltsdorp Evergreens-rugbyvoetbalklub, was hy in die Suid-Kaap betrokke by die onderhandelingspan om Evergreens Sacos en Evergreens Saru te laat amalgameer as een dorpspan.
Behalwe vir sy liefde vir sport en sy passie vir sy beroep, was Milford ook 'n kerkraadslid.
Johannes Milford (63)
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’