GEORGE NUUS - Die rotasiebasis van leerlinge wat nog by sommige skole toegepas word ingevolge Covid-19-protokolle, kry die wind van voor.
Ouers en belangegroepe het hulle reeds daarteen uitgespreek. Die DA het gister, Woensdag 26 Januarie, 'n aansoek by die hof ingedien om skole weer oop te kry.
Die DA-leier het reeds vroeër aangedui dat die party besig is om hofstukke voor te berei vir 'n dringende hofinterdik. Dit sal voorsiening maak dat skole ten volle kan open.
Luidens 'n verklaring van Steenhuisen beteken die regering se beleid van een meter sosiale afstand weens Covid-19-protokol dat die meeste skole geforseer word om op 'n rotasiebasis te funksioneer.
Die DA het gister, Woensdag 26 Januarie, 'n aansoek by die hof ingedien om skole weer oop te kry.
Hy het dit beskryf as irrasioneel, onverdedigbaar en onregverdig. Daar is geen gronde om daarmee voort te gaan nie.
Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, het vroeër in 'n verklaring gesê die Wes-Kaapse onderwysdepartement, is al toegegooi met klagtes van ouers wat wil hê die rotasiebasis moet tot 'n einde kom.
Daar word gekyk hoe na 'n normale skoolsituasie teruggekeer kan word, maar dit moet verantwoordelik gebeur.
Debbie Schäfer
Derick Petersen, hoof van Parkdene Sekondêr, het Maandag gesê die rotasiebasis van leerlinge vind nog by dié skool plaas. Die skool het 1 600 leerlinge en is net gebou vir 800 leerlinge. Hy het benadruk dat geen leerling weggewys word nie.
Daar is te veel leerlinge. Die rotasiebasis word toegepas ingevolge die Covid-19-protokolle. Nie al die leerlinge kan gelyktydig toegelaat word nie. "Dis baie ontwrigtend vir die kinders. Die kinders wil by die skool wees."
Derick Petersen, hoof van Parkdene Sekondêr.
Hy het benadruk dat, onder omstandighede, die leerlinge goed presteer het.
Freddy Trout, ondervoorsitter van die skool se beheerraad en 'n ouer met twee kinders in die skool, het gesê dis baie frustrerend vir die kinders. Hulle is sommige dae by die huis. Op 'n afdag wil hulle laat slaap. Hulle wil nie by die skoolboeke by die huis sit nie. Dit beïnvloed hulle skoolwerk.
Hy sorg egter dat die kinders 'n spesifieke roetine volg as hulle tuis moet bly.
Mariska van Heerden, 'n ouer van 'n kind in Laerskool George-Suid, het gesê dit was by die skool van toepassing, maar nie meer nie.
Dit was 'n groot aanpassing. Die onderwysers was baie behulpsaam en ondersteunend. "My persoonlike opinie is dat 'n rotasiebasis nadelig is. My kind het meer ingeneem in 'n klassituasie. Die kinders is nog jonk. Hulle is onervare wat selfstudie betref."
Johannes Jumat, bekende prokureur en ouer van kinders in Hoërskool Outeniqua, het gesê in die verlede is 'n rotasiebasis by die skool toegepas, maar nie nou meer nie.
"Ek verstaan daar is Covid, maar dit is tot almal se voordeel as daar na 'n normale situasie teruggekeer word. Dis meer belangrik vir kinders by skole. Dit voel vir my of daar dubbele standaarde vir verskillende industrieë is. Almal moet oor dieselfde kam geskeer word. Niks kan die persoonlike aandag en samesyn in die leerproses vervang nie.
"'n Skool is nie 'n aflaaiplek nie. Dis die plek van toekomstige leiers. Hoe meer kinders by die skool is, hoe beter. 'n Rotasiebasis help nie," het hy gesê.
Johannes Jumat
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'