GEORGE NUUS - Slegs een personeellid van Rosemoor-dienssentrum vir bejaardes, alombekend as Groendakkies, het vir Juniemaand 'n gedeelte van haar salaris ontvang.
"Die personeel van sewe is gewaarsku dat dit heel waarskynlik gaan gebeur, en nou is ons dáár," het die sentrumbestuurder, dr. Henri McCombi, gesê.
Drie lede van die raad, wat as vrywilligers werk, en McCombi, het George Herald verlede week na die perseel genooi vir 'n openhartige gesprek oor hul benarde posisie.
"Ons het dringend hulp van die publiek en sakegemeenskap nodig, anders gaan ons ons deure moet sluit. Ons het geen ander keuse nie," het McCombi gesê.
Die sentrum word tans met befondsing van R13 000 per maand bestuur, wat etes vir inwoners, algemene onderhoud en salarisse vir personeel insluit. 'n Drastiese vermindering in departementele befondsing is die rede vir hierdie krisis.
Vir meer inligting kontak die sentrum by 044 875 8769; stuur 'n e-pos na rosemoorsentrum@gmail.com of kontak McCombi by 079 958 8392.
Wat sê die departement?
Die departement van sosiale ontwikkeling finansier tans meer as 1 000 nie-winsgewende organisasies (NWO). Die meeste NWO's, uitsluitend die 116 kinderbeskermingsorganisasies en dienste aan verswakte ouer persone en persone met gestremdhede, het 'n vermindering in hul befondsingsubsidies ervaar. Só het Esther Lewis, 'n woordvoerder van die departement, gesê.
"Die Rosemoor-dienssentrum word tans vir 100 begunstigdes befonds. Die organisasie se befondsing het van R373 563 in 2023/24 tot R156 900 in 2024/25 verminder."
Lewis het gesê volgehoue ekonomiese druk dwarsoor die land, het ongekende begrotingsbesnoeiings deur die Nasionale Tesourie in 2023/24 meegebring.
"Daarbenewens het provinsies verminderde befondsing van die Nasionale Tesourie vir die 2024/25-boekjaar ontvang. Dit het 'n beduidende impak op die provinsiale begroting van die Wes-Kaap en alle ander provinsiale regerings gehad," het Lewis gesê.
"Die departement verstaan die ekonomiese druk en uitdagings waar binne NWO's funksioneer."
'n Skrywe is verlede jaar aan alle NWO's uitgereik wat deur die provinsiale departement befonds word, om organisasies in te lig oor die verwagte 2024 /25 begrotingsbesnoeiings. "Ons moedig die openbare en privaat sektor aan om steeds NWO's se fondsinsamelingsinisiatiewe te ondersteun," het Lewis gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’