GEORGE NUUS - In Rosedale en Touwsranten het die onderskeie gemeenskappe die vakansiedag, Maandag 16 Junie, met albei hande aangegryp.
Sporttoernooie in dié areas het kinders en jeugdiges heel gepas op Jeugdag aan die gang gehou.
Netbal in Rosedale
Die Active United Rosedale-netbalklub het ’n heerlike Jeugdag by hul tuisvenue met ’n netbaltoernooi gehou. Die geleentheid het jong netbalspelers betrek en hulle die kans gegun om hul potensiaal in sport uit te oefen.
Die drie deelnemende spanne was Peace Lovers, onder leiding van afrigter Levinia Botha; Yumies van Rosemoor, met Ursula as afrigter; en die gasheerspan, Active United Rosedale, met beide junior- en seniorspanne.
Die organiseerders van die geleentheid is Rolene Tarentaal en Juriun Philips.
“Ons mikpunt is om spelers te leer dat integriteit in sport alles kroon,” het Tarentaal gesê. Sy bedank die skeidsregters, Angelo le Roux en Druney Las, vir hul bydrae tot die sukses van die dag.
Yumies van Rosemoor
Touwsranten-sportdag
Die George Touwsranten Sportraad Jeugontwikkelingsprojek het ’n sportdag in Touwsranten aangebied, wat kinders en jeugdiges (6 en 34 jaar) vanuit gebiede soos Wildernishoogte, Kleinkrantz, Hoekwil, Lancewood-plakkerskamp en Bergplaas betrek het.
Die inisiatief poog om sosiale kwessies soos dwelmmisbruik, misdaad en vroeë swangerskappe te bekamp, terwyl dit die Soweto-opstand van 1976 herdenk, waar jeug teen apartheid se diskriminerende onderwysbeleid geprotesteer het.
Die geleentheid het diverse aktiwiteite ingesluit, waaronder ’n 10 km-wedloop waaraan 120 kinders en jeugdiges deelgeneem het. Verder het ses sokker- en vier netbalspanne meegeding, terwyl rugby, domino’s, tradisionele stokgevegte, veerpyltjies en kinderdansgroepe die sportveld laat gons het. Opvoedkundige praatjies oor alkohol- en dwelmmisbruik, MIV, TB en die betekenis van Jeugdag het bewusmaking en bemagtiging bevorder.
Die Touwsranten-sportdag het diverse aktiwiteite ingesluit, waaronder ’n 10 km-wedloop waaraan 120 kinders en jeudiges deelgeneem het.
Die geleentheid het plaasgevind onder leiding van Adward Vaas, wykraadslid Marlene Barnardt en die Touwsranten-sportraad, met ondersteuning van brandweer-, gesondheids- en wetstoepassingsdienste.
Organiseerders beplan om dit ’n jaarlikse geleentheid te maak, met uitbreiding na ander landelike gebiede om sosiale agteruitgang te verminder en die veerkragtigheid van die jeug te vier.
“Dit was ’n reusesukses,” het een van die organiseerders, Gerald Seti, gesê. “Kinders van Sedgefield en Blanco in George, is by die projek betrek. Ons sien daarna uit om volgende jaar nog groter te gaan.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’