Update
GEORGE NUUS - Die bestes van die beste jeugskoupresteerders het van oor die land met hulle diere na George gereis om deel te neem aan die Agri-Expo Nasionale Jeugskoukampioenskappe wat vandeesweek vir die eerste keer in die Suid-Kaap in George aangebied is.
Vierhonderd kinders het van Maandag tot Woensdag 1 tot 3 Oktober alles uitgehaal om beoordelaars te beïndruk.
Deelnemers het eers teoretiese eksamens afgelê waarna hulle hul diere moes voorberei voordat hulle in die ring kon pronk. Daar was 15 afdelings, waaronder ook kulinêre kuns en suiwelbereiding.
Breyton Milford, die Nasionale Jeugskoukampioenskap se voorsitter, het gesê die skou bevorder vaardigheidsontwikkeling en groepwerk en dit kweek 'n liefde vir die landbou. "Die jeug is die landbouers van die toekoms. Deur middel van die jeugskou word hulle van jongs af opgelei."
Susan Willemse, 'n bestuurslid van die Outeniqua-skougenootskap, het Dinsdag gesê hulle is ná 'n deeglike voorlegging eenparig aangewys as die skou wat die nasionale kampioenskap vanjaar gaan aanbied. "Ons voel bevoorreg en trots dat ons die gasheerskou kan wees en soveel besoekers van oor die hele land na George kon lok. Komplimente stroom in en ons skou dat die biesies bewe!"
Die organiseerders is veral trots op die deelnemers in die kulinêre en suiwelbereidingafdelings, twee afdelings wat nie baie aktief was in die Wes-Kaap nie. "Nadat die George-skou 'n poging aangewend het om dit weer op die been te bring, is ons trots op die deelnemers wat in 2018 vanuit die Wes-Kaap hierdie kampioenskappe kan bywoon. Die Skougenootskap beywer hom vir die ontwikkeling van die jeug en jeugskou is 'n groot prioriteit, ook tydens ons jaarlikse landbouskou."
Lede van die Clanwilliam-span neem 'n blaaskans. Op die reling van links sit André Vermeulen, Daniël Conradie, Julese van der Colff, Carla Nieuwoudt en Annime Brand. Voor sit Wilhelm van Noordwyk.
Sy het gesê die skouterrein verleen hom uitstekend tot die aanbied van die kampioenskap. "George is vir seker die land van melk en heuning, wat dan ook die tema is wat gekies is vir hierdie kampioenskap."
Uitslae is eers gisteraand ná druktyd bekendgemaak en sal aanlyn gepubliseer word.
Relebohile Phike van die Vrystaat rond 'n dis versigtig af in die kulinêre kompetisie. Photo: Susa Willemse
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'