GEORGE NUUS - ‘n Vrou wat verlede week haar 66ste verjaarsdag gevier het, lééf deesdae vir atletiek. Rina Bruyns, 'n trotse oud-Kwagga, se nuwe liefde is vyfkamp-gooie wat haar oor die afgelope drie jaar armsvol medaljes besorg het.
Sy is vars terug van Tunisië waar sy silwer in vier kategorië tydens die Open Africa Masters Athletics Championships verower het. Die geleentheid het van 20 tot 24 November plaasgevind.
Wanneer jy Rina motorhuis oopmaak lê al die gewigte in rye - dit is hamers, diskusse, massabal en spiese vir die vale. Sy giggel wanneer sy oor haar oefensessies praat.
“Toe ek vir atletiekoefening by Jacques Wolfaard aanmeld, moes ek in ‘n ry staan saam met al die kinders en my beurt afwag vir ‘n gooi,” sê Rina. “Op die oomblik is dit net ek en Marita Durant (75) van Eden Masters wat by hom oefen. Hy noem ons sy Golden Oldies.”
Dit het alles begin met ‘n dare van haar dogter, Reandi Bronkhorst, wat self ‘n kortafstandatleet is. “Sy het vir my gesê: ‘Ma, ek sien jou by die nationals!’ En net daar het die gogga gebyt. Dit was einde 2023,” het Rina gesê. Mei 2024 het Rina vir die eerste keer aan ‘n nasionale kompetisie in Potchefstroom deelgeneem. Sy het uitstekend gevaar en ses medaljes - silwer en brons - verower.
Rina en haar dogter, Reandi Bronkhorst, tydens die eerste nasionale meesterskampioenskappe in 2024 waaraan sy deelgeneem het.
“Van daar het dinge vinnig spoed opgetel. Ek het begin leef vir atletiek, en my oefenrooster sodanig aangepas. Ek probeer aan soveel moontlik kompetisies deelneem, en het reeds twee nasionale kampioenskappe agter die rug.”
Haar hande is vol silwer en goue medaljes van die onderskeie kampioenskappe - insluitend SWD Masters Athletics Championships - waar sy aan vyfkamp en individuele items deelgeneem het. Volgende op haar lys is die wêreld meesterskampioenskappe in Daegu, Suid-Korea, in Augustus volgende jaar.
Rina se hele gesin is baie sportief - al drie haar kinders en kleinkinders - en dit gee haar eindelose plesier om hulle in aksie te sien, of dit nou op die sportveld of in die swembad met waterpolo is.
Tien jaar gelede is Rina met kanker in haar regterbors gediagnoseer. Sy het nie gedink sy sal ooit weer normale funksie van haar skouer en spiere hê nie, wat nog te sê van vyfkamp-gooie beoefen. “Ek het my diagnose baie privaat hanteer en aangegaan met my lewe,” het Rina gesê.
“Wanneer ek nou terugkyk na daardie tyd, is dit vir my ongelooflik om te sien hoe ek gevorder het, waar ek nou is. Ek hoop dit kan ander inspireer.”
In aksie op die veld.
Rina met haar vier medaljes tydens die Afrika-spele in Tunisïe, einde November.
Rina Bruyns (links), Jacques Wolfaardt en Marita Durant met Rina se verjaarsdag verlede Woensdag, 10 Desember.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’