GEORGE NUUS - Dis nie vreemd as mense stadiger ry verby die huis van Fanus en Zalinda Truter op die hoek van Meent- en Pinestraat in Heatherpark nie, want hulle kyk na die egpaar se reuse- versierde Kersfeesboom.
As jy egter wil sien hoekom baie mense so gaande is, moet jy spring want die liggies gaan die komende naweek, 11 en 12 Januarie, die laaste keer brand. Daarna sal dit afgehaal word en eers weer in Desember aangeskakel word.
Die boom, wat 18 meter die lug in toring, het sowat 5 000 liggies. Dit verskaf sedert 9 Desember elke aand groot vreugde.
Dat die Truters baie moeite doen om die boom te versier, ly geen twyfel nie. Dis nie net sommer liggies opsit nie. Hulle moet gewoonlik ‘n hidrouliese hyskraan (cherry picker) kry om die boom te versier.
Hulle kla nie, want as hulle sien hoeveel vreugde dit bring, is dit vir hulle al die moeite werd.
Die Truters en die boom kom ‘n lang pad. Zalinda het Maandag 6 Januarie aan George Herald vertel dat hulle in Januarie 2003 daar ingetrek het. “Ek het toe gesê dít is my Kersboom.”
Daardie jaar, in Desember 2003, het hulle een lang string liggies op die boom gesit. ‘n Leer en besemstok is ingespan om vir die boom ‘n pragtige kleurvolle soom gee. Haar droom was om eendag die boom vol liggies te versier en ‘n ster heel bo op te sit.
Elke jaar het die Truters ‘n string of twee liggies bygekoop. Dit het ‘n groter uitdaging geword en later het hulle ‘n bakkie onder die boom getrek. Met ‘n leer bo-op die bakkie, kon hulle die liggies hoër plaas.
In 2012, drie dae voor Kersdag, het ‘n ramp hulle getref. Booswigte het al die boom se liggies en ander toerusting in die vroeë oggendure gesteel. Dit het het hulle egter nie van stryk gebring nie en sedert 2013 het hulle van voor af begin met die aankoop van liggies vir die boom.
Fanus het ook al sy romantiese kant gewys en Zalinda bederf. Vir Valentynsdag 2021 het hy vir haar ‘n pragtige groot rooi hart van ‘n string rooi liggies gemaak en dis op die boom geplaas.
Die Kersboom verskaf groot vreugde aan ander inwoners in die straat en verbygangers.
Die Truters kry 'n hyskraan om die liggies te hang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’