GEORGE NUUS - Riaan van Niekerk le Roux, gebore op 27 Maart 1964 in Hartswater in die Noord-Kaap, is 'n man wat diep spore getrap het in die regswese van Suid-Afrika, spesifiek in die Suid-Kaap.
Hy het op Maandag 31 Maart sy laaste dag in die hofgange van George deurgebring, en ná 34 jaar het hy sy toga finaal opgehang.
Le Roux is die derde van vier broers en het sy skoolloopbaan in 1971 aan die Laerskool Postmasburg begin.
In 1975 het sy gesin na die destydse Port Elizabeth (Gqeberha) verhuis, waar hy sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Kabega voltooi het. Daarna het hy sy hoërskooljare aan Hoërskool Framesby deurgebring en in 1982 gematrikuleer.
Le Roux is in 1983 opgeroep vir militêre diens by die 6 SAI-bataljon in Upington. Sy leierskapvermoë is vroeg raakgesien, en hy is gekeur vir die offisierskursus in Oudtshoorn, waar hy in November 1983 tot tweede luitenant bevorder is. In 1984 het hy diens gedoen as pelotonbevelvoerder aan die grens en is later daardie jaar bevorder tot luitenant.
In 1985 het hy sy regstudies aan die Universiteit van Port Elizabeth begin en in 1988 sy B-Juris-graad en in 1991 sy LLB-graad voltooi. Sy loopbaan in justisie het op 28 Januarie 1991 as landdros in Riversdal afgeskop.
Daarna het hy in 1993 en 1994 as streekhofanklaer in Oudtshoorn diens gedoen, voordat hy in 1995 die amp van streekhofbeheerder in George opgeneem het - 'n rol wat hy met toewyding vervul het.
Op 11 Desember 1993 is hy getroud met Petronel Verwey. Die egpaar het twee kinders, Stefan, gebore op 29 Junie 1995, en Adre, gebore op 10 Julie 1998.
Aktiewe leefstyl
Benewens sy toewyding aan reg en geregtigheid, is Le Roux ook 'n ywerige sportman. Reeds op hoërskool het hy sy plek in die 1ste rugbyspan van Framesby in 1981 en 1982 losgespeel. Sy rugbyloopbaan het voortgeduur by die Universiteit van Port Elizabeth, waar hy vir die 2de span gespeel het, en later vir die 1ste span van Riversdal in 1991 en 1992.
Sy liefde vir uithouvermoë en fisieke uitdaging het hom verder geneem in die wêreld van langafstandhardloop. Hy het al vier ultra-marathons voltooi, waarvan drie die bekende Two Oceans-marathon insluit. Daarby het hy sowat 30 standaard marathons en om en by 50 half-marathons suksesvol gehardloop.
Asof dit nie genoeg is nie, is Le Roux ook 'n passievolle branderplankryer - weliswaar nie professioneel nie, "vir nou".
Riaan van Niekerk le Roux het diep spore in die Suid-Kaap getrap en verdien 'n rustige aftrede. Dankie Riaan!