GEORGE NUUS - Kiesers wat wil seker maak of hulle later vanjaar in die algemene verkiesing hul kruisies kan trek, kry die naweek, 3 en 4 Februarie, kans om sekerheid daaroor te kry. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) hou waarskynlik sy laaste registrasienaweek voor die algemene verkiesing.
'n Stemdag is nog nie aangekondig nie, maar daar is sprake dat pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand, 8 Februarie, sal aankondig wanneer kiesers stembus toe gaan.
Ramaphosa lewer dié aand sy jaarlikse staatsrede wanneer hy beide huise van die parlement, die nasionale vergadering en die nasionale raad van provinsies, toespreek.
Ofskoon die datum nog nie aangekondig is nie word daar in sommige politieke kringe vir beplanningsdoeleindes gereed gemaak vir Mei. Die datum van 22 Mei word genoem.
Kiesers kan vandag en môre (4 Januarie) by die onderskeie stemlokale gaan kyk of hulle reeds geregistreer is en/of hul besonderhede korrek is. Nuwe kiesers sal ook kan registreer. Dit vind plaas waar kiesers gewoonlik stem en dit begin om 08:00 en sluit om 17:00.
In politieke kringe word gesê die verkiesing, wat op die nasionale en provinsiale sfere plaasvind, is 'n geleentheid om terug te kyk op 30 jaar van demokrasie in Suid-Afrika.
Verteenwoordigers van politieke partye is dit in die algemeen eens dat dit een van die belangrikste verkiesings ooit in Suid-Afrika se geskiedenis gaan wees.
Tertuis Simmers, Wes-Kaapse DA-leier, het Dinsdag 30 Januarie aan George Herald gesê die registrasienaweek is baie belangrik. Kiesers het mag by die stembus deur hul kruisies te trek. Die DA beskou die verkiesing as 'n manier hoe die land gered kan word.
Kiesers moet seker maak waar hulle geregistreer is. In die verkiesing sal hulle slegs kan stem waar hulle geregistreer is.
Dit was anders in die verlede. Toe kon 'n kieser op nasionale vlak in 'n ander provinsie gaan stem as hy/sy op stemdag nie by sy/haar geregistreerde punt is nie.
Virgill Gericke van die EFF het gesê dis 'n waterskeidings-verkiesing. Die party doen 'n beroep op mense en veral jongmense, om te registreer. "2024 is vir ons (EFF) se 1994."
Christo Alexander van die PA het gesê die 2024-verkiesing is soos die 1994-verkiesing. Die party is baie opgewonde oor die registrasienaweek want hy is juis midde in 'n munisipale verkiesingstryd. Op 14 Februarie vind 'n munisipale tussenverkiesing in George in wyk 8, Parkdene plaas.
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê die verkiesing is baie belangrik want dit bied 'n geleentheid om 30 jaar van verval en agteruitgang te keer. Volgens hom tel elke stem in die proporsionele stelsel. Elke kieser wat kan stem, moet gaan stem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’