Tydens verlede week se raadsvergadering is met ‘n meerderheidstem van die ANC beslis dat Sea Kay Engineering tot verlede Vrydag kans gegun word om hulle waarborg in te dien.
Hierdie maatskappy het die tenders vir die ontwikkelings op Erf 325 in Pacaltsdorp en Erf 329 ontvang, projekte wat by die R120 miljoen draai.
Die waarborg vir Erf 329, wat wetlik binne 21 dae ná hul kontraktuele verbintenis met George Munisipaliteit aan die einde van verlede jaar al ingedien moes gewees het, is steeds nie by die munisipale kantore ontvang nie.
Gerhard Ras, waarnemende munisipale bestuurder, het by navraag bevestig dat die raad se regsadviseurs in die proses is om hul kontrak met Sea Kay te bestudeer en sodoende seker te maak dat die kansellasieproses in orde is.
"Ons het sedert einde verlede jaar herhaaldelik uitstel gegee, meer kan nie van ons verwag word nie," sê Ras.
Die DA het gestem vir uitstel tot die einde van die maand, maar is geveto deur die heersende koalisie. DA-raadslid Adriaan Kruger wat Touwsranten in die raad verteenwoordig, sê dis jammer dat Sea Kay nie ‘n verdere twee weke kans gegun is nie, aangesien die mense al so lank wag.
Sea Kay het volgens Ras reeds die waarborg vir Erf 325 ingedien en sal dus steeds die ontwikkeling in Pacaltsdorp behartig.
Moeg gewag
Begunstigdes van Touwsranten is uiters ontevrede oor die raad se besluit om Seakay nie kans te gee tot die einde van die maand nie, want hulle is al ‘besonder moeg gewag’.
"Ons mense wag nou al so lank, sommiges vir 18 jaar. Daar is van hulle wat al dood is," vertel Maggie Adams, lid van die behuisingskomitee van Touwsranten.
Volgens Patrick Buys, ‘n wykskomiteelid (wyk 4), is hulle mense in twee oor die aangeleentheid. Die vrees onder inwoners is blykbaar dat hulle nog ses maande gaan moet wag tot ‘n volgende tender gefinaliseer is en daarna dalk vir jare voor hulle uiteindelik kan intrek. Die kontrak het die bou van 395 huise ingesluit.
Touwsranten se begunstigdes en ander ondersteuners hou komende Sondag 25 Julie ‘n biddag om 12:30 op Erf 239 oorkant die gemeenskapsaal. "Ons gaan bid dat die ding tot ‘n einde kom," sê Adams.
Omgekeerde ongelukkigheid
Waar die mense van Touwsrandten jammer is oor die opskorting van Sea Kay se tender, is die mense van Pacaltsdorp net so ongelukkig omdat Sea Kay se tender vir die ontwikkeling van Erf 325 steeds voortgaan.
Virgill Gericke, voorsitter van die Pacaltsdorp Bekommerde Inwoners (PBI), het laat blyk dat Sea Kay se kontrak by Erf 325 vir dieselfde redes behoort opgeskort te word.
"Ja, hulle het wel ‘n waarborg ingedien, maar letterlik ses maande na die spertyd," sê hy.
"Die raad handhaaf dubbele standaarde, want selfs die gebruiklike 14 dae beswaar tyd is ook nie gehandhaaf nie," sê Virgill.
Die PBI bevraagteken verder Sea Kay se vermoëns en vrees dat hulle die projek nie gaan voltooi nie.
Verdere opspraak is gemaak deur ‘n dringende mosie, ingedien deur ANC-raads-lid Myron Rabinowitz, om die terughou-ding van verskeie werkers se lone by Seakay te ondersoek.
Daar word beweer dat werkers vir weke lank nie betaal is nie.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Virgill Gericke (middel) saam met lede van die PBI (Pacaltsdorp Besorgde Inwoners) tydens die raadsvergadering verlede Woensdag.