Gallery
GEORGE NUUS - Die weer was koel en bewolk, maar dit was omtrent die enigste ding wat koud was op die George-skouterrein verlede Saterdag, waar 'n propvol feesterrein en 'n magdom aktiwiteite vir 'n heerlike atmosfeer gesorg het.
FOTOGALERY - George Landbouskou 2026 trek besoekers met landbou en familiepret
Die George-landbouskou het oor drie dae gestrek (27 tot 29 Augustus) en het gesinne oor die hele streek gelok met interessante uitstallings, kompetisies, vermaak en natuurlik, plaasdiere!
Een van vanjaar se nuwe trekpleisters was die landboutent, waar plaaslike produkte soos aartappels, avokado's, makada-mianeute, heuningbostee, blomme, kiwi's en granate uitgestal is.
By die pluimvee-afdeling kon besoekers 'n kleurvolle verskeidenheid hoenderrasse, eende, ganse, kalkoene, wedvlugduiwe en konyne bewonder.
Wanneer 'n mens deur dié area beweeg het dit omtrent soos 'n teepartytjie geklink soos die hoenders kloek en kekkel.
Die perde het ook aandag getrek met 'n verskeidenheid kompetisies waar perde en ruiters kon pronk. Kosliefhebbers het hulself tuis-gemaak in die kaas-en-wynsaal, met 'n keur van kase, wyn, verwerkte vleis en suiwelprodukte.
Grethe Verwey (16, links) van Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn met haar Japanese Bantam-hoender Joachim, en haar onderwyser, Cameron Stronach, en sy dogtertjie Ila (7) met haar Jersey Wooly konyn, Leila.
Die Jeugskou het Saterdag gewys dat die volgende geslag se talent nie onderskat moet word nie, met jong deelnemers wat in die volgende afdelings meegeding het: perde, pluimvee, kulinêre kuns, afslaervaardighede en fotografie.
Vir diegene wat aksie gesoek het, was daar 'n padel-, sterkman-, laerskool-toutrekkompetisie, ovaalbaanwedrenne, skopboks, skaak en 'n afloswedloop vir die sakelui.
Hondeliefhebbers kon Duitse herdershonde bewonder, en diegene wat van katte hou het die skou se eerste katteskou beleef. Vrydagaand het die musikant Simon Shaw die verhoog betree, terwyl rugbyondersteuners die Springbokke teen die All Blacks Saterdagaand regstreeks kon dophou.
Mila Gerber (1) van Waboomskraal is gaande oor hierdie kietsie, Savanna, van Kaapstad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’