GEORGE NUUS - Die familie van Carol Patrick Motha het vir hom 'n spesiale verrassing vir sy 60ste verjaarsdag gereël.
Motha is sy lewe lank versot op die polisie, en sou verseker die mag betree indien hy nie met 'n verstandelike gestremdheid geleef het nie. Só vertel 'n familielid wat gehelp het om dié partytjie te reël.
Motha is Sondagmiddag, 16 Februarie, deur die polisie van Conville by sy huis opgetel, en na sy partytjie geneem. Die feesvieringe het 'n dag voor sy verjaarsdag, Maandag 17 Februarie plaasgevind.
Motha was self aangetrek in 'n volle polisie-uniform. Selfs sy koek, in die vorm van 'n polisiehemp, het by die tema gepas.
"Hy is 'n gestremde persoon, maar die lieflikste mens ooit," het Jacobus Gertse, sy swaer gesê. "Hy is versot op die polisie en sy hart swel behoorlik as hy hulle sien. Die familie is innig dankbaar vir die hulp van die plaaslike polisiediens om hierdie dag ekstra spesiaal te maak."
Volgens Shirwyn Motha moet die familie elke Donderdag die George Herald vir sy oom koop.
"As daar berigte van dwelms is, moet ons die volledige berig vir hom lees. Hy wil weet wat die waarde van die dwelms was en of die persone in hegtenis geneem is."
Selfs sy koek, in die vorm van 'n polisiehemp, het by die tema gepas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’