GEORGE NUUS - Polisielede van George kan moontlik ondersoek word ná ‘n beweerde brutale aanval op ‘n aangehoudene.
Mnr. Norman de Villiers (39) beweer hy is deur twee polisiemanne geskop en met ‘n vuurwapen in die gesig geslaan terwyl hy in die George-polisieselle aangehou is. De Villiers is verlede Donderdagaand by sy huis in George-Suid in hegtenis geneem na klagtes van rusverstoring.
Volgens De Villiers het die polisie met sy inhegtenisname ‘n "klein bietjie dagga" in sy asbakkie binne sy huis gevind en dit was dan ook die rede waarom hy na die George-polisiestasie geneem is. Dit was die begin van ‘n nagmerrie, sê hy.
"Die twee polisiemanne wat my toegesluit het, het my by verskeie geleenthede so erg aangerand dat ek nou nog sukkel om asem te haal. My ribbes is beseer en ek het erg pyn. Hulle het my tot met ‘n vuur-wapen in die gesig geslaan."
De Villiers sê hy is toegang tot mediese hulp geweier en eers die Vrydagaand het ‘n speurder hom weer besoek om oor sy aanhouding te praat.
"Hy het vir my gesê die beweerde oortreding is nie so ernstig nie en dat ek R50 borg kan betaal om vrygelaat te word.
Hy het ook aangebied om te reël dat die geld by my huis gehaal kan word, maar daar het niks van gekom nie."
Volgens De Villiers het ander polisiemanne aan hom gesê dat hy in die selle sal lê tot die Maandag en mediese hulp is deurentyd geweier. Toe hy ‘n aanrandingsaak teen die polisie wou aanhangig maak, is dít ook geweier.
Kapt. Bernadine Steyn, woordvoerder van die polisie in die Suid-Kaap, het op navraag van die George Herald bevestig dat De Villiers die Donderdagaand vir besit van dagga toegesluit is. "Die volgende dag is opvolgondersoeke gedoen om vas te stel of hy elders gesoek word en ook om sy adres te bevestig," sê sy.
Steyn het De Villiers versoek om met die stasiebevelvoerder in verbinding te tree om ‘n verklaring af te lê sodat die polisie ‘n amptelike klag kan open oor die beweerde aanranding.
Die klagte teen De Villiers is Maandagoggend teruggetrek.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS