GEORGE NUUS - Johnny Hendricks, ‘n pa en oupa van Bonnievale en ywerige fietsryer, is per fiets op pad van sy tuisdorp af na Gqeberha om bewusmaking te skep van misdaad en die mishandeling van vroue en kinders.
Hy is genooi na 'n byeenkoms van die Patriotiese Alliansie (PA) môre by die Nelson Mandela-stadion waar die partyleier, Gayton McKenzie, gaan optree.
Hendricks het Woensdag in George aangedoen saam met Adrian Nobel van die PA, ’n inwoner van Delft, wat hom vergesel.
Hendricks het ’n paar jaar gelede met bewusmakingsuitreike by skole begin, nie net in sy tuisdorp nie, maar ook omliggende dorpe.
Hy gesels met die kinders oor misdaad, korrupsie en vroue- en kindermishandeling en deel wenke vir persoonlike beveiliging en belangrike inligting soos waar kinders kan hulp soek in geval van mishandeling.
Met sy boodskappe probeer hy ook om kinders se lewensbeskouing oor betrokkenheid by misdaad te beïnvloed.
Hy was selfs verlede jaar op sy verjaarsdag, 6 Mei, in Mosselbaai om skole daar te besoek.
“Ek voel baie sterk oor die hoë misdaadsyfer en hoop dat my bydrae ’n verskil kan maak. Hierdie is ’n plan wat die Here op my hart gelê het,” sê hy.
Hy is pa van drie seuns en twee kleinkinders.
Die PA het van Hendricks se inisiatief gehoor en was so beïndruk dat hulle hom as gas genooi het na hulle geleentheid Saterdag.
Nobel, ook ’n ywerige fietsryer, het besluit om hom te vergesel vir ondersteuning. George-raadslid Rita Gregory het die twee in George verwelkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’