GEORGE NUUS - Pearly Lewis se hart is so groot en wyd soos die strate van Parkdene. Elke middag gooi sy haar deure oop vir 120 kinders van dié buurt, vir 'n nasorgprogram en warm ete by haar huis.
Shydac (Save Haven Youth Development and Aftercare) is al 16 jaar 'n geregistreerde, nie-winsgewende organisasie, wat deur Pearly en haar man, Gerald, op die been gebring is.
"Die projek is gebore uit pyn," vertel Pearly. Die gepaar se middelste seun, Clinton, het in sy gr. 8-jaar die pad byster geraak toe hy met die verkeerde groep uitgehang het.
"My seun was in die kloue van dwelms," sê Pearly.
"Vir agt jaar het ons op ons knieë gegaan en gebid. 'n Weldoener, Danie, het ons seun vir ses maande in 'n rehabilitasiesentrum in Johannesburg geborg."
In hul tyd van nood het die Lewis-egpaar geroepe gevoel om seker te maak dat ander kinders nie dieselfde roete volg nie. "Ons wou graag 'n veilige plek vir kinders wees, en hulle van die strate af hou," sê Pearly.
Pearly en van haar nasorgkinders by Shydac met warm mussies en serpe van George Knitwits tydens Mandeladag. Foto: Michelle Pienaar
Na die sluiting van Table Top, waar haar man werksaam was, het hulle hierdie gemeenskapsprojek begin. 'n Potgieter-egpaar het gehelp om hul huis vir die doel op te knap. Pearly en haar handlanger, Fiona Britz, bestuur die nasorg.
Tans word hulle weekliks ondersteun deur 'n gebedsgroep van mans met kosdonasies, en weeklikse sopprodukte van Arms of Love. Pearly en Gerald gee ook graag musiekoptredes met hul gospelgroep, Unlimited. Sy is die sanger en Gerald speel kitaar. Kontak Pearly by 074 380 5016.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’