GEORGE NUUS - Leerders van George Voorbereidingskool het Vrydag 14 Februarie gewys dat hulle groot omgeeharte vir bejaardes het.
Hulle het altesaam 1 196 nie-bederfbare blikkies kos ingesamel en dit is tydens ‘n spesiale geleentheid aan Huis JJ Watson en Rosemoor tehuis vir bejaardes oorhandig. Elkeen van die instansies het 598 blikkies ontvang wat tot voordeel van die inwoners aangewend sal word.
Hierdie blikkies was leerders se "betaling" om op Valentynsdag met gewone klere skool toe te gaan. So wys die leerders dat Valentynsdag nie net vir verliefdes is nie, en dat hulle omgee vir senior burgers.
Valentynsdag is met styl gevier, en die temas was "You are just plane awesome" en "You blow me away".
Vanjaar is besluit om weg te beweeg van ballonne, aangesien dit 'n moeiliker proses is om te herwin.
'n Lid van die Ouer Onderwysersvereniging (OVV) en ‘n ma by die skool, Jeanette Botha, het met die idee vorendag gekom om vliegtuie te vou.
Daar is toe besluit om papiervliegtuie uit ou papiere en koerante te vou en die hekke daarmee te versier. By die hekke is borrels geblaas wat ook nie skade aan die natuur doen nie.
Die skool probeer werklik 'n voorbeeld stel oor hoe om herwinning maklik te maak en daag ander skole ook uit om “groen” te begin dink.
Colette Rossouw van George Voorbereidingskool het Maandag gesê hulle is baie dankbaar teenoor die ouers wat wys dat hulle harte het wat omgee vir die gemeenskap van George. "Ons probeer ook ‘n kultuur vestig by die kinders van om te gee sonder om iets terug te verwag."
Valentynsdag is met styl gevier, en die temas was "You are just plane awesome" en "You blow me away".
Charlene Barnard van Huis JJ Watson, het gesê hulle is baie dankbaar vir die bydrae.
"Elke blikkie kos help om ons begroting te laat klop. Lewenskoste word duurder."
Elvodene Beukes van Rosemoor tehuis vir bejaardes, het gesê die instansie is baie dankbaar. "Ons wil dankie sê vir George Voorbereidingskool se deurlopende ondersteuning die afgelope jare. Die verhouding wat ons met hulle het is baie besonders. Namens die bestuur wil ek sê ons is baie dankbaar vir die gebaar."
Die skool probeer werklik 'n voorbeeld stel oor hoe om herwinning maklik te maak en daag ander skole ook uit om “groen” te begin dink.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’