GEORGE NUUS - Die DA se keuringspaneel om 'n kandidaat vir die burgemeesterspos in George aan te wys vergader môre, Vrydag 17 Mei. Die naam van die suksesvolle kandidaat sal egter eers na die verkiesing op 29 Mei bekendgemaak word.
Vrae het ontstaan oor wat nou gaan gebeur nadat dit bekend geword het dat die uittredende burgemeester, Leon van Wyk, vir eers in die pos gaan aanbly.
Daar is Maandag 6 Mei aangekondig dat Van Wyk Vrydag 10 Mei 'n lid van die Wes-Kaapse wetgewer sou word. Die besluit oor sy verskuiwing is geneem voor die gebou-tragedie by Victoriastraat 75 en dit hou nie daarmee verband nie.
Dit het in die loop van Vrydag bekendgeword dat Van Wyk vir eers nie die vakante pos in die wetgewer sal opneem nie.
Gesien teen die agtergrond van die tragiese gebeure in George is besluit dat Van Wyk eers na die verkiesing die posisie in die wetgewer sal opneem. Hy is in 'n verkiesbare posisie.
Die DA-span in George is laat Vrydagmiddag daaroor ingelig. Die gevoel is dat dit nou nodig is dat daar stabiliteit in George is.
Van Wyk het die afgelope naweek by die ramptoneel aan George Herald gesê hy is betrokke by die noodsituasie. Hy het intieme kennis daarvan en dis belangrik dat hy die proses deurloop.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se federale raad in die Wes-Kaap, het Maandag, 13 Mei gesê die verkiesing vir 'n nuwe burgemeester gaan voort. Hy het alle navrae na Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, verwys.
Zille het bevestig dat die proses voortgaan. Die keurpaneel sit Vrydag en die naam van die kandidaat sal eers na die verkiesing bekendgemaak word.
Daar kan aanvaar word dat die DA se kandidaat die nuwe burgemeester sal word, want die party het 'n meerderheid in die George-stadsraad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’