Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Klein groepie mense het Sanca (South African National Council on Alcoholism and Drug Dependence) se "Celebrate Sobriety" verlede Saterdag 29 Junie by die Tuinroete Botaniese Tuin bygewoon.
"Al word een persoon se lewe hierdeur geraak het ons 'n verskil gemaak," het Sanca se direkteur van die Tuinroete-area, Denise de Beer, gesê.
Die geleentheid was ook die amptelike opening van 'n voetpaadjie, wat die "Recovery Walk" genoem word, wat oop is vir die publiek om te mediteer oor kwessies, te besin oor die lewe.
Dertien bakens met plaatjies wat jou lei in denkrigtings is al langs die paadjie gemonteer.
"Hierdie het niks te doen met die 12 stappe waarna mense verwys as hulle wil afstand doen van 'n afhanklikheid nie, hierdie is bloot 'n manier om mense te help wat met enige kwessie worstel, wat hulle lewe heeltemal oorneem," het De Beer gesê.
Sy is baie opgewonde oor die moontlikheid dat mense waarvan sy nooit sal weet nie, heling deur hierdie paadjie sal vind.
"Ek stap die roete om myself beter te laat voel en my te keer om die verkeerde goed te doen." - Melishia Heyns (18)
Vind die paadjie
Besoekers sal die paadjie vind wanneer hulle by die hoofingang in gaan, en die grondpad na die agterkant van die tuine volg. Die paadjie is net 'n entjie verder (maar aan dieselfde kant) as die publieke badkamers.
Die bome by die kort roete is dertien jaar gelede deur Sanca-personeel geplant. Die simboliek is in die kol - van die bome gedy, ander het gekwyn, sommige het seergekry. "Dit is presies so wanneer kliënte ons besoek. Elkeen het sy eie pad wat hy stap, elkeen is uniek," het De Beer gesê.
VIDEO - Denise de Beer, direkteur van Sanca Garden Route, gesels oor die "pad van herstel" wat vir die publiek in die Tuinroete Botaniese Tuin beskikbaar is. Dit is 'n meditasieroete vir diegene wat 'n spesifieke probleem wil oorkom.
Video: Michelle Pienaar
Die paadjie is net 'n entjie verder (maar aan dieselfde kant) as die publieke badkamers. Foto: Michelle Pienaar
Daar is hoop
Melishia Heyns, 'n agtienjarige leerder van Hoërskool Pacaltsdorp, het die geleentheid saam met haar tannie bygewoon. Melishia is deur 'n baie moeilike tyd nadat sy haar babasussie en ma kort na mekaar verloor het toe sy slegs nege-jaar-oud was. Sy voel dit anker haar om te besin oor dinge in haar lewe, en om haarself te herinner om op die regte pad te bly.
Heathwin Meyer (29) en Jo-Wayne Marewick (35) het hul verhale van hoop gedeel, waar hulle minder as twee jaar gelede 'n lewe met dwelms geruil het vir 'n sober leefstyl, 'n vaste werk en 'n toekoms.
Jo-Wayne Marewick (35, links) en Heathwin Meyer (29) en het hul verhale van hoop gedeel, waar hulle minder as twee jaar gelede 'n lewe met dwelms geruil het vir 'n sober leefstyl, 'n vaste werk en 'n toekoms. Dié twee manne het baie om voor te lewe. Foto: Michelle Pienaar
Dr Louis Petersen, voorsitter van Sanca Tuinroete se raad, maak gereed om die lint te knip met die amptelike opening van die voetpaadjie, genaamd "Recovery Walk", binne die Tuinroete Botaniese Tuin. Foto: Michelle Pienaar
Deelnemers het 'n geleentheid gekry om 'n boodskap op 'n geel vlaggie van hoop te skryf, wat by Sanca Tuinroete se dienspunte in George en Mosselbaai vertoon sal word. Foto: Michelle Pienaar
• Kontak Sanca by 044 884 0674 of stuur 'n e-pos na adminlivefree@sancagr.org
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’