GEORGE NUUS - Medelye en boodskappe stroom in na die nuus van oom Sydney Jacobs (86) se dood - 'n ware gemeenskapsleier en steunpilaar van Pacaltsdorp.
Oom Sydney het verlede Donderdagaand, 16 Januarie, weens natuurlike oorsake gesterf.
Hy word deur die Pacaltsdorp-gemeenskap beskryf as 'n geliefde vriend en 'n man van God. Sy noue betrokkenheid by Pacaltsdorp Primêr (PPS), St. Albans Anglikaanse Kerk en Pacaltsdorp-kliniek is wyd bekend.
PPS skoolhoof Edwin Manuel sê oom Sydney was klokslag by die skool om sy agterkleinkinders, wat daar skoolgaan, by die skool te besorg en weer te kom haal.
"Hy het altyd op sy fiets gery," sê Manuel.
"Met sy jare se ervaring en kennis het hy in almal se harte gekruip. Oom Sydney het einde verlede jaar op versoek 'n praatjie vir die graadeens gelewer oor hoe huise destyds gebou is. Hulle het sommer buite in die skaduwee gesit."
Pynlik netjies
Volgens Manuel was oom Sydney die nie-amptelike spreekbuis vir die skool se ouers en het hy gereeld opgedaag om vir die skool te bid. Hy was lief vir gesels en het altyd pynlik netjies met sy fiets opgedaag.
Oom Sydney het oral op sy fiets rondgery.
'n Landdros van Springs in Gauteng, Shaun Jacobs, is een van oom Sydney se 13 kleinkinders. Hy onthou sy oupa as 'n man wat diep spore getrap het.
"Hy het 15 jaar lank by die kliniek uitgehelp as vrywilliger, waar hy soggens die hekke oopgesluit het en gehelp het om nommers te allokeer," sê Jacobs.
"Hy was vir 58 jaar in die bediening as 'n lekeprediker en het elke Dinsdagoggend 'n geestelike boodskap aan die werkers van Tikketai gelewer. My oupa was vir sowat 10 jaar by die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum betrokke, en was sterk gekant teen die oopmaak van tavernes en die verkoop van dwelms."
Blou Bul-ondersteuner
Oom Sydney was baie lief vir kaas, sjokolade, fietsry en rugby. "Hy was 'n stoere Blou Bul-ondersteuner," sê Jacobs. Volgens Jacobs se neef, Sergio Prins, was sy oupa, 'n oupa duisend. "Ons het altyd saam rugby gekyk. Ek gaan daai dae vreeslik baie mis. My oupa het daarvan gehou om mense te help. Hy was 'n leier in ons gemeenskap."
Oom Sydney was 'n stoere Blou Bul-ondersteuner.
In sy jonger dae was hy 'n stoorman by Table Top en het hy gewerk by Prince Vincent, 'n kleinhandelaar in die dorp. Sy vrou, Caroline Jacobs, is reeds op 9 November 2013 oorlede.
Oom Sydney word oorleef deur sy ses kinders (vyf dogters en 'n seun), 13 kleinkinders en 19 agterkleinkinders. Almal behalwe Shaun Jacobs woon steeds in Pacaltsdorp.
Oom Sydney Jacobs het sy twee agterkleinkinders, Glenicia en Roché Saaiman, op hulle eerste skooldag na Pacaltsdorp Primêr vergesel 'n dag voor sy dood.
'n Gedenkdiens word vanaand, Donderdag 23 Januarie, om 19:00 by St Albans Anglikaanse Kerk gehou. Die begrafnis vind plaas op Saterdag 25 Januarie (12:00) by Skoolstraat 2, Pacaltsdorp, en die kerkdiens by St. Albans begin om 13:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’